top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


Week 4 – Dis net ‘n skurk wat nie vergewe nie (2)


Matt 18:21-35 – Daarna het Petrus na Jesus toe gekom en gevra: “Here, hoeveel keer moet ek my broer vergewe as hy iets verkeerds teen my doen? V 26-27 – “Die amptenaar het voor die koning neergeval en gesoebat: ‘Gee my tog uitstel; ek sal u alles terugbetaal.’ Die koning het hom jammer gekry, hom laat gaan en sy skuld afgeskryf.”


Vergelyk ook 1 Kor 15:10 – “Maar deur die genade van God is ek wat ek is.”


Is dit nie maar ook baie van ons se storie nie? Is ons nie soms ook soos die amptenaar in hierdie storie van Jesus nie? Hy het nie verstaan wat hy so pas van die koning ontvang het nie. Hy het gevra vir uitstel van sy skuld en die koning het in sy genade baie meer gegee as wat hy gevra het. Hy kon daar uitstap as ‘n vrygespreekte van ál sy skuld en sy vryheid gaan geniet. Hy kon die wêreld vertel van die genadige koning. Hy het egter nie eers die huis gehaal om sy gesin te vertel nie want sy optrede teenoor ‘n medeamptenaar het hom in die tronk laat beland.


Die Here is onwrikbaar oor vergifnis. As Hy ons nie vergewe het nie was daar geen Christene op aarde gewees nie. Sondag na Sondag hoor ons hoe God vergewe uit genade. Ons lees daarvan in Christelike literatuur, bely dit in ons belydenis en liedere en praat daaroor. Dit is die kern van ons Christelike geloof, GENADE, één woord vir alles wat God vir ons in Christus vir ons gee, die ewige lewe – “Die loon wat die sonde gee is die dood; die genadegawe wat God gee, is die ewige lewe in Christus Jesus ons Here” (Rom 6:23). Ons is genademense omdat ons God ‘n God van genade is, maar beleef ons dit?


Dis vreemd dat mense bereid is om enigiets vir godsdiens te doen, behalwe om te aanvaar dat God se genade verniet is. Ons kan nie genade verdien of koop nie. Die goeie nuus dat God ons vergewe het in Jesus, het baie mense se harte nog nie gepenetreer nie. Hulle sal alles glo behalwe dat daar buite die kringetjie donker rondom hulle, ‘n Lig van liefde brand. Dit het dalk ook nog nie deurgewerk tot in hul verhoudinge en gesindhede nie.


Baie gelowiges verstaan, of aanvaar, nie die onverdienstelike, onvoorwaardelike genade en vergifnis van God nie, daarom leef hulle ook nie met onvoorwaardelike liefde en vergifnis vir ander nie. God se onverdiende geskenk, die vryskelding van skuld, het nog nie werklik wortelgeskiet in ons lewe en emosies nie.


En dis tog so eenvoudig. Ons moet aanvaar dat God ons vergewe het. Sy genadegawe is ‘n hemelse geskenk en daarom kan ons dit diep in ons harte beleef dat ons vry is van al ons skuld en dat ons niks hoef terug te betaal nie – “Almal (gelowiges in Jesus Christus) word, sonder dat hulle dit verdien, op grond van Sy genade vrygespreek vanweë die verlossing deur Jesus Christus” (Rom 3:23b). God se vergifnis beteken dat Hy ons verlede met al sy foute, mislukkings en sondes, opgeskeur en weggegooi het. Dis betaal en gestempel – “Paid in Full!”


As ons nie kan besef en kan aanvaar dat ons vergewe is nie, kan ons nie hierdie onvoorwaardelike liefde en genade en vergifnis verder aangee nie. En die gevolg hiervan is verbrokkelde verhoudinge en emosionele krisisse binne in ons. Omdat God dit vir ons gedoen het moet ons ook dit aan ander doen, anders is ons skurke. Om te vergewe is nie maklik nie, dis ‘n proses. Ons moet nie vergewe en probeer vergeet nie, maar vergewe en onthou dat ons mos vergewe is!


“God skenk ons nie net genade nie, Hy het vir ons Jesus gegee, die Here van genade” (J. Tada)


Gebed: Hemel Vader, dit is ‘n onbeskryflike wonder dat U genadige liefde uitgestort word aan ons mense wat niks besit nie behalwe die sonde. Ons is so geneig om anders te dink oor vergifnis. Ons dink eerder hoe om ‘n ander in eie munt terug te betaal wat ‘n onreg oor ons gepleeg het, as om te onthou dat ons vergewe het en is. Dankie dat U die onvergeeflike in ons vergewe het, dit toegeplak het en weggegooi het, vir ewig. Maak ons daarom bereid om onverskoonbare dinge van ander te vergeef. Amen.



Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page