top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


Week 4 – Dis net ‘n skurk wat nie vergewe nie (1)


Matt 18:21-35 – Daarna het Petrus na Jesus toe gekom en gevra: “Here, hoeveel keer moet ek my broer vergewe as hy iets verkeerds teen my doen? Selfs sewe keer?” Jesus antwoord hom: “Ek sê vir jou, nie sewe keer nie maar selfs sewentig maal sewe keer.”


Vergelyk ook Rom 13:8 – “Julle moet niemand iets verskuldig wees nie, behalwe om mekaar lief te hê.”


Jesus se vierde “Storie vir Lewe” stel twee uiterstes teenoor mekaar: die onbegryplike barmhartigheid van die koning wat miljoene rand afskryf van ‘n onbarmhartige amptenaar (v 27), en die onbegryplike gevoelloosheid van hierdie vrygespreekte wat nie eens ‘n paar rand van ‘n medeamptenaar kan kwytskeld nie (v 30).


Petrus vra spesifiek vir Jesus hoeveel keer hy moet vergewe. Hy is nogal ruimhartig met sy voorstel van sewe keer, aangesien drie keer die aanvaarde grens by die destydse Jode was. Jesus boul hom egter uit met Sy antwoord: “nie sewe keer nie maar selfs sewentig maal sewe keer.” Jesus kom keer hierdie lewensreël van die Jode volkome om. Vergelding is nie meer die belangrike faktor in die bepaling van die verhoudinge van mens tot mens nie, maar die vergewing. Dit gaan ook nie om die stel van sekere perke aan die mate van vergewensgesindheid nie. In die koninkryk van God gaan dit om 'n vryheid wat in staat stel om die gesindheid van Jesus Christus in alle omstandighede te openbaar.


Ons skuld aan God en aan ander is so groot dat niemand van ons dit kan betaal nie, nog minder ‘n amptenaar wat maandeliks wil spaar om uiteindelik miljoene terug te betaal (v 26). Vergun my om die volgende wat ons van Max Lucado raakgelees het, te deel.


Sê nou jy ontvang ‘n brief van die hemel af wat soos volg lees:


Beste Koos,

Ek skryf in antwoord op u versoek om vergifnis wat ons vanoggend ontvang het. Dit spyt my om u mee te deel dat u reeds u kwota van sondes oorskry het. My rekords toon dat u, sedert u van ons dienste gebruik maak, sewe maal op die gebied van hebsug oortree het en dat u gebedslewe onder standaard is. Ons sien ook dat u geneig is om in oormaat te skinder en eerder die splinter in ‘n ander se oog raak te sien as om die balk in jou eie oog waar te neem. Nog een van die vele oortredings is dat u steeds glo aan ‘n oog vir ‘n oog instede daarvan om die ander wang te draai of die ekstra kilometer te loop. Weens hierdie enkele sondige optredes, van die duisende ander waaraan u uself aan skuldig gemaak het deur die jare, is u ‘n hoërisiko-kandidaat. U moet verstaan dat genade ook beperkings het. Jesus stuur egter Sy spyt en beste wense en hoop dat u elders gehelp sal word.

Beste wense.


Sê nou net, sê nou net dit is waar “dat genade ook beperkings het”SKRIKWEKKEND! Goddank, God se genade is grensloos!!! Dit het God ‘n verskriklike prys gekos om ons te vergewe en ons regverdig te maak. Hy het ons almal ‘n onbetaalbare groot sondeskuld kwytgeskeld. Ons dankbaarheid oor God se onbeperkte liefde en genade behoort ons oorstelp te laat sodat ons nie haastig genoeg, mekaar se bietjie skuld afskryf nie. Eintlik skuld ons mekaar niks nie, behalwe die liefde.


“Genade beklemtoon terselfdertyd die hopelose armoede van die mens en die grenslose liefde van God” (William Barclay).


Gebed: Here, maak ons bewus van daardie donker hoeke in ons lewe waar ons ‘n wrok koester. Maak ons soos Christus sodat ons selfs as ons vervolg word kan bid: “Vader vergeef hulle.” Dankie dat U oor ons rekening in die hemelse lêer, “VERGEWE DEUR GENADE,” geskryf het. Amen.



Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page