top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


Moet nooit tou opgooi nie (5)

Luk 18:1; v 8b – “Jesus het vir hulle ‘n gelykenis vertel om duidelik te maak dat ‘n mens altyd moet aanhou bid sonder om moedeloos te word. Hy het gesê ......; V 8b – “Maar sal die Seun van die mens by sy koms nog geloof op die aarde vind.”


Hierdie weduwee het ter wille van haarself na die regter toe gegaan. Om ʼn weduwee te wees, was nie maklik nie maar dit sit haar ook nie af nie. Absoluut niks sit haar af nie, want sy het geloof en bid! Sy gee nie op voor die doel bereik is nie. Die onregverdige regter verander, hoeveel te meer sal ʼn regverdige (genadige) Vader vir sy kinders sorg? Hierdie kontras lig die absolute boodskap van die gelykenis uit. God is altyd regverdig. Ons kan hom nie vergelyk met die onregverdige wêreld nie. As ʼn onregverdige regter na ʼn lang stryd regverdig kan raak hoeveel te meer is die Vader wat ons liefhet, nie elke dag regverdig nie. Wanneer ons in geloof met gebed na die Here gaan en smeek dat Hy volgens sy eie wil ons saak moet behartig, kan ons weet dat God ons sal verhoor.


Jesus beklemtoon “dat ons altyd moet aanhou bid sonder om moedeloos te word.” In alle omstandighede en by elke geleentheid waar dit moontlik is, moet ons Hom aanroep. Ons moet ons nie deur omstandighede laat afsit of van koers af laat bring nie. Ons geloofslewe moet so gefokus wees op Jesus dat ons lewe altyd gekenmerk sal word deur ʼn lewenswyse van gebed. Ons moet aanhou bid vir die moedeloses en self volhard. Ons moenie motivering verloor en swig onder die druk van die bose wêreld nie. Gebed weerhou ons om te word soos die slegte wêreld.


Wat is die inhoud van ons geloof? Jesus vra of “Hy nog geloof gaan kry by Sy wederkoms” (v 8b). Dit het ʼn invloed op ons gebedslewe en natuurlik andersom. Gebedsvolharding word gekoppel aan geloof. Diegene wat aan die vertwyfeling en moedeloosheid toegee en die gebed staak, lewer daardeur die bewys dat die verwagting van die koms van Christus vir hulle nooit werklik 'n geloofsaak was nie. Hulle sal gevolglik ontwaak om hulle onder diegene te bevind “wat agtergelaat is” (Luk 17:34-36). Daarom stel Jesus die vraag! Die gevaar bestaan dat as Hy die gelowiges lank laat wag tot Sy wederkoms, hulle moedeloos sal word, hul geloof sal kwyn en selfs ophou om te glo. Waar dit gebeur, hou die gebed ook op. Sodra hulle die geloof in die wederkoms laat vaar, misken hulle die geloof in God, in Sy Evangelie en in Jesus Christus.


Daarby het ons 'n Voorspraak by God wat verklaar het: "As julle in My bly en my woorde in julle, sal julle vra net wat julle wil hê, en julle sal dit kry" (Joh. 15:7). Bedes wat nie dadelik vervul word nie of selfs onvervuld bly, mag dus nie tot moedeloosheid lei nie. God verhoor op Sy tyd en volgens Sy wil. Gebed bring ons in pas met God en nie God in pas met ons nie. Hoofsaak is dat daar volharding sal wees in die gebed om God te verheerlik, en 'n onwankelbare geloof in Jesus Christus, wat ons geleer het hoe om te bid.


“Gebed is om aan die deur te klop, geloof is om te verwag dit sal oopgaan” (W.J. Harley).


Gebed: Hemel Vader, baie dankie dat U genade en Heilige Gees alleen aan hulle gegee word wat U met hartlike versugtinge sonder ophou daarom bid en daarvoor dank. Steeds dwing die vraag ons tot verootmoediging en ondersoek van ons eie hart: "As die Seun van die mens kom, sal Hy wel die geloof op die aarde vind?" Versterk ons geloof asseblief o Heer, dat ons nooit sal twyfel nie maar aanhou sal volhard daarin. Dankie o Gees, dat U ons Voorspraak is by God en ons daaraan herinner om “altyd aan te hou bid sonder om moedeloos te word.” Amen.



Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page