top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


Moet nooit tou opgooi nie (4)


Luk 18:1-8 – “Jesus het vir hulle ‘n gelykenis vertel om duidelik te maak dat ‘n mens altyd moet aanhou bid sonder om moedeloos te word. Hy het gesê ......”


Vergelyk ook Luk 11:9a en 13b – “Vra, en vir julle sal gegee word; .... V 13b – “Die Vader in die hemel gee nog baie meer! Hy sal die Heilige Gees gee vir dié wat vra.”


Een van die voordele van ‘n lewe met God is dat Hy ‘n vrygewige Vader is. Hy sal goeie dinge gee aan “elkeen wat dit ernstig bedoel met God en Sy koninkryk!” God het tot die uiterste toe gegaan om ons Sy kinders te maak en omdat ons Sy kinders is het Hy vir ons Sy Gees gegee om uit te roep en te kan bid: “Ons Vader.......”


Tog is daar diegene wat reken dat gebed onvanpas is. Diegene wat vergelykings tref deur na ander mense te kyk - die "hulle" van die wêreld - en dan tot die gevolgtrekking kom dat "hulle" nooit in ‘n kerk kom nie maar alles het wat mens nodig het. "Hulle" sien relatief goed daaruit want "hulle" werk vir wat "hulle" het. Dit is verdien deur hard te werk en nie hard te bid nie. "Hulle" besit baie en "hulle" begroting klop deur "hulle" goeie beplanning en dan kry "hulle" elke jaar nog belasting ook terug. "Hulle" daaglikse brood word verskaf deur die bakkery. Niks is verkry deur gebed nie.


Daar is baie mense wat reken dat hulle al hoeveel keer gevra het, duisend keer geklop het, só baie al gesoek het, maar nooit ontvang het nie. Só baie mense het al gesê dat hulle gebid het dat hul genees word van ‘n terminale siekte, maar dit het net vererger, gebid het vir vrede maar die onrus en oorlogsrumoer dreun voort, gebid het om ‘n eksamen deur te kom maar nogtans gedruip het, onskuldige kinders sterf, huwelike loop op die rotse en, en, en........ Hoe verstaan mens dit? Die gevolgtrekking : “Nee wat, gebed werk nie, dit is onproduktief.” Die weduwee in Jesus se storie kon aanhou, maar ons kan nog soveel méér aanhou, want ons praat met die lewende God wat ons hartstogtelik liefhet.


Gebedsvertroue beteken om totaal afhanklik te wees van ons hemelse Vader, om “jou lewe aan die Here oor te laat en te vertrou op Hom; Hy sal sorg.” Gebed is beslis nie ‘n towerstaffie nie. Om elke keer wanneer ons iets nodig het oor ons “gebedslampies” te vryf, gaan nie noodwendig iets voortbring nie. Jesus sê uitdruklik hier ons hemelse Vader gee “goeie gawes aan dié wat dit van Hom vra.” Laat ons dan God dank dat Hy ons gebede volmaak verhoor en nie soos wat ons dit wil hê nie. Die Here skenk die gawes aan ons wat met Sý wil ooreenstem, daarom moet ons agterkom wat Sy wil is. Sý wil word vir ons uitgespel in Sy Woord en om dit in geloof te aanvaar, is gereelde en getroue Bybelstudie nodig.


Deursettingsvermoë was een van die weduwee se sterk eienskappe. Sy word absoluut deur niks van stryk gebring nie. Dit raak haar nie dat die regter, wat hoër status as sy het, nie mens of God vrees nie. Ons moet deur niks van stryk gebring word nie. Om te volhard in gebed, is die manier wat die Here wil hê om stelling in te neem voor die heel belangrikste deur in ons lewe en te weet: As ons hier gaan klop in Jesus se Naam, gaan ons Vader oopmaak. Hy is altyd tuis en sal op die regte oomblik en op Sy tyd en Sy manier, op ons klop reageer.


“Ons seerkry word nie dadelik genees deur te bid nie; maar as ons bid vir ander wat seer het, voel ons self dadelik beter” (George Matheson).


Gebed: Ons hemelse Vader, dankie dat ons kan waag om U Vader te mag noem, want dit is ‘n duur Naam. Dankie Jesus dat dit deur U onbeskryflike offer was dat ons God so mag noem. Dankie Vader dat ons met U mag praat. Dankie dat ons kan vra, kan klop, kan soek en U luister. Dankie dat ons ons harte in U troonkamer kan oopmaak en te weet U hoor. Dankie Heilige Gees dat U die vertroue in ons opwek sodat ons gelowig kan bly bid en aan te hou bid, sonder om moedeloos te raak. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page