top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


Vaderliefde par Excellence (4)


Luk 15:11 – Verder het Jesus gesê: ”Daar was ‘n man wat twee seuns gehad het.....”;


Vergelyk ook Ef 2:10 – “God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het.”


Jesus begin Sy storie deur aan die Fariseërs en skrifgeleerdes te verduidelik van ‘n vader en sy twee seuns, waarvan die jongste seun sy vader versoek het om sy erfdeel te gee. Dit is ‘n skokkende optrede want daardeur gee die jongste te kenne dat hy wens sy pa reeds dood is. Indien die vader uit sy eie beide seuns se erfdporsies oorhandig het voordat hy sterf, sou dit verstaanbaar wees omdat hy sy seuns respekteer het en tot die uiterste liefgehad het. Jesus gebruik juis hierdie gelykenis om die eeue oue probleem van spanning tussen ouer en kind te demonstreer.


Die Fariseërs en skrifgeleerdes word verder geskok deur die vreemde en verrassende optrede van die vader. Hy staan die versoek toe! Instede dat hy sy seun berispe oor sy versoek, verkies hy om hom sy vryheid te gee en daardeur vrywillig onderwerp word aan die pyn van verwerpte liefde – hoe groter die liefde, hoe groter die pyn. Die vader voldoen nie aan die versoek omdat hy dink dit die beste is vir sy seun nie, hy gee die sondaar sy vryheid. Die jongste daarenteen, erken ontvangs en demonstreer daardeur sy afwesigheid van vader-seun verhouding.


Dit is ook die optrede van ‘n sondaar. Hy het geen Vader-seun verhouding met God nie. Hy gee nie om vir God nie en weier om enigiets met Hom te doen te hê. Hy weet van God maar eer en dank Hom nie as God nie (Rom 1:21). Hy soek sy vryheid en wil doen wat hy wil, hoe hy wil en wanneer hy wil. Hy wil nie vasgeketting wees aan die eise en reëls van sy Vader nie. Hy is nie geïnteresseerd in God se wil nie en weier om enige verantwoordelikheid vir sy verkeerde optredes te aanvaar.......En God laat dit toe! Deur die pyn van verwerpte liefde gee God die sondaar sy vryheid!


God gee die sondaar sy erfporsie. “God openbaar vanuit die hemel sy toorn oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat die waarheid deur hul ongeregtigheid probeer onderdruk. God gee hulle aan hul drange van die hart oor en aan onsedelike onreinheid, sodat hulle hul liggame onder mekaar onteer. God gee hulle oor aan skandelike drifte. Hy gee hulle oor aan hul verdraaide opvattings, sodat hulle doen wat onbetaamlik is” (Rom 1:18-32). Hy gee hulle oor.... en oor.... en oor.


En tog, wat die Vader betref, Hy bepaal ook wat verder gebeur. Hy sien die sondaar wat terugkom reeds van ver af en kry hom innig jammer. Hy “hardloop” die toiingrige vent tegemoet, omhels en soen hom. God is ryk in goedheid, verdraagsaamheid en geduld. Hy is die wagtende, nie wraakgierige Vader. Deur Sy goedheid wil hy die sondaar tot bekering lei. Hy weier om sy skandemaker-kind te onteien. Hy verwyt nie eers nie. Die sondaar bly die "seun van my" (vs. 24). Waar die seun wat in sonde verlore was hom in verootmoediging en diepe skuldbelydenis voor die Vader stel, het hy by uitnemendheid die seun geword wat die hart van sy Vader uitermate aangryp en verbly.


“God het ons gemaak wat ons nou is.” Hy is die Vader, en Hy het ons die lig laat sien. Dus is die verband tussen Hom en ons dié van kindskap. Dis veel sterker as enige transaksie of ruilhandel wat ons met Hom kan aangaan. Ons weet dat God regverdig handel daarom “sal Hy elkeen vergeld volgens sy dade: aan dié wat in goeddoen volhard en op dié manier soek na wat verhewe, eervol en onsterflik is, gee Hy die ewige lewe; maar dié wat uit selfsug ongehoorsaam is aan die waarheid en toegee aan die ongeregtigheid, straf Hy in sy toorn” (Rom 2:6-8).


“Wie een keer in Jesus Christus die spieëlbeeld van God se Vaderhart gesien het, kyk vir die res van sy lewe met nuwe oë na die wêreld” (Martin Luther).


Gebed: Vader, ons bid dat U ons sal help om verblydend te reageer op U ontsaglike genade wat U skenk ten spyte van ons oortredinge. Dankie dat U met ope arms ons tegemoet “hardloop”en afbuig na ons toe, maak nie saak hoe laag ons in sonde verval het nie, en weer uit die moeras ophelp. Dankie dat ons ter eniger tyd na U toe kan gaan sonder om bekommerd te wees in watter bui U is. Dankie Vader dat U vergifnis skenk aan elkeen wat sy sondes aan U bely. Dankie dat U dit vergewe en ons reinig van alle ongeregtighede. Amen.




Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page