top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


Vaderliefde par Excellence (2)


Luk 15:11; 20b; – Verder het Jesus gesê: ”Daar was ‘n man wat twee seuns gehad het.....”; V 20b – “Toe hy nog ver aankom, het sy pa hom al gesien en hom innig jammer gekry. Hy hardloop hom tegemoet, omhels hom en soen hom.”


Vergelyk ook Ef 2:3b & 4-5 – “Ons is deur ons sondige begeertes oorheers en het gedoen net waartoe ons luste ons gelei het en wat in ons gedagtes opgekom het. Maar God is ryk in barmhartigheid en het ons innig lief. Deur Sy groot liefde het Hy ons wat dood was as gevolg van ons oortredinge, saam met Christus lewend gemaak. Uit genade is ons gered!”


Hierdie pa was lank reeds op die uitkyk vir sy jongste. Sy liefde maak dat hy hom nie verlekker in sy seun se ellende nie. Hy hardloop hom tegemoet; maak die laaste en moeilikste treë van sy seun makliker. (Hardloop was vir ‘n Oosterse man ongehoord en onwaardig.) Die ontmoeting is hartroerend. Met 'n hartlike soen, 'n gebaar wat boekdele spreek, word hy terugontvang in die hart en huis van sy vader. (Mans het nie mekaar op die mond gesoen nie.)


Daar was heel moontlik ‘n magdom vrae wat beantwoord moes word, maar al hierdie vrae verval by die aanskou van die blydskap van die vader by die begroeting van sy onwaardige, in lompe geklede, vernederde, maar berouvolle seun. Hier spreek die liefde die hoogste woord. Daar is geen verwyt nie, en geen verduideliking gevra nie; slegs twee woorde spreek dit uit van alles wat gebeur het – onvoorwaardelike liefde.


Die jongman begin met sy storie – hy wil nog verduidelik dat hy nie werd is om as 'n seun aanvaar te word nie, maar sy pa val hom in sy rede – sy pa het ‘n storie vir lewe, ‘n nuwe lewe! Hy wou hom as huurling aanbied maar daartoe gee die vader geen geleentheid nie. Trouens dit is 'n onmoontlike versoek. 'n Seun kan immers tot sy vader slegs in een verhouding staan naamlik dié van seun – ‘n afgedwaalde en 'n teruggekeerde seun, maar nietemin 'n seun. Daar is geen kwessie dat 'n seun in die verhouding tot sy vader sal staan waarin 'n huurling tot sy meester staan nie. Die teenstelling is nie seun teenoor huurling nie, maar verlore teenoor gevind, dood teenoor lewend. En tog, wat die vader betref, bly hy in elk geval "seun van my" (v 24).


Hy word verander in die seun van vreugde. Die vader gee “nuwe klere, die beste” – ‘n simbool van ou vuil sonde wat afgegooi word en vreugde wat aangetrek word. “Trek vir hom skoene aan” – die verskil tussen 'n slaaf en 'n seun. “Sit 'n ring aan sy vinger” – ‘n seëlring; herstel van sy status as familielid en outoriteit, die simbool van seggenskap en gesag, sodat hy in die plek van die vader sou kon optree – hierdie jongman kan kontrakte teken namens die familie. “Bring die vetgemaakte kalf” – die beste word geslag vir feesviering. “Hierdie seun van my was dood, en hy lewe weer, verlore, maar is teruggekry” – almal in die dorpie gaan saam kom feesvier!


Sy innerlike storie sal hom altyd reduseer tot 'n tweederangse inwoner van die huis, maar sy pa se storie herstel hom volkome in die huis, met volle vertroue – hy kry in effek die kluis se sleutel. Volledig herstel en deel van die huis. Daarmee is die seun nie net herstel in sy vorige posisie in die vaderhuis nie, hy het iets meer geword as wat hy voorheen was. Die reg op ’n deel van die boedel het hy nie meer nie; dus leef hy net van die genade van die vader. Die hoofsaak is dat dit nie die rykdom van die vader is wat hom nou bind nie, maar die goedheid en genade en liefde. Hy weet nou wat die vader-naam beteken, en wy sy lewe in dankbaarheid aan hom. En in die huis van die vader is daar groot blydskap omdat die verlore seun weer tuisgekom het.


Die dag toe ons na die Here gedraai het, het Hy dit alles met ons gedoen. Hy het nie net ons sondes vergewe nie, maar ons ou klere vervang met guns en kindskap en outoriteit. Hy het ons laat deel in die blye fees en selfs die engele het saam feesgevier oor die een sondaar wat hom bekeer het.


“Die liefde is sterker as die dood, die hartstog magtiger as die doderyk; dit brand en vlam soos vuur” (Hoogl 8:6b)


Gebed: Hemel Vader, ons het almal stories. Deesdae is dit veral stories van die swak regering, korrupsie en die swak ekonomie en hoeveel beter die ou dae was teenoor vandag. Soos die jongste in U storie wil ons opstaan uit ons ellende. Ons wil kies om anders te dink as pessimisme en moedeloosheid en wegbreek van die doemprofete en foutvinders rondom ons. Ons wil deel wees van die Vader se fees selfs in die donkerste donker want ons voel die genade van U aan ons lyf. Ons het nuwe klere ontvang, skoene aan ons voete en ‘n seëlring om heeltyd hoop-verspreiders te wees. Amen.



Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page