November 8, 2019

November 7, 2019

November 6, 2019

November 5, 2019

November 4, 2019

November 1, 2019

October 31, 2019

October 30, 2019

October 29, 2019

October 28, 2019

Please reload

Recent Posts

E-Kerk - Gedagte vir Vandag

August 29, 2016

Vaderliefde par Excellence (1)

 

Luk 15:11-13 – Verder het Jesus gesê: ”Daar was ‘n man wat twee seuns gehad het. Die jongste het vir sy pa gesê: ‘Pa, gee my die deel van die besittings wat my toekom.’ Hy het toe die goed tussen hulle verdeel.”

 

Hierdie gelykenis is een van die aangrypendste wat Jesus vertel het. Ons ken hierdie gelykenis as die “Gelykenis van die verlore seun.” Die gevolg is dat ons aandag onmiddellik fokus op die jongste seun. Is dit die beste opskrif? Wat van die gelykenis van die ouboet?  Of dalk die gelykenis van 'n vader se liefde? Of dalk die gelykenis van 'n Vader en sy twee seuns?

 

Die oproep gaan van Jesus uit om die Fariseërs en skrifgeleerdes te beskaam, wat dit Hom kwalik neem dat Hy met tollenaars en sondaars verkeer om hulle te red (15:1-2). Dan vertel Jesus hulle ‘n storie van die besondere optrede en innerlike gesindheid van ‘n vader, sy ontroerende blydskap oor 'n seun wat die weg na die ouerhuis teruggevind het, en sy hartewens dat die ouer broer in daardie vreugde sal deel. Dit gaan hier om twee seuns wat elk op sy eie manier van hul vader vervreemd raak, hom smart aandoen, maar weer deur hom teruggenooi word om as broers onder sy dak te woon.

 

Ons let allereers op die smart en vreugde van die vader oor die jongste seun. Hierdie seun verlang van sy vader "die deel van die besittings wat hom toekom". Blykbaar opper die vader geen beswaar nie, hoewel hy moontlik toe reeds in sy hart 'n diepe smart ondervind het. Die vader het "tussen hulle die goed verdeel", en sodoende in ooreenstemming met 'n bepaalde stelsel van erfreg gehandel soos in Deut. 21:17 beskryf word. So 'n optrede van die jongste kan egter die bewys wees van 'n innerlike verset teen die vader en 'n begeerte om nie meer die vader-seun-verhouding te eerbiedig nie. Dit kon ook wees dat hy buitendien, indien hy tuis sou bly, slegs die oudste broer wat eienaar van die grond sou word, se kneg moes wees. Dit is dus begryplik dat 'n moedige, vooruitstrewende seun sou verkies om in die vreemde, ’n lewensbestaan te gaan soek.

 

Die vader gee aan die seun sy vryheid. Hy maak sy deel van die goed “tot geld en vertrek na ’n vreemde land”, na ‘n heidenland,  waar hy nie bekend is nie (v 13). Die besit van 'n aansienlike bedrag geld, en die valse vriende wat daardeur aangelok word, bring hom in allerlei versoekings wat voorheen vir hom onbekend was. Hieraan gee hy toe en begin die moeras van sonde ingly.

 

“Hy verkwis sy geld deur losbandig te lewe” en om sy ellende te vermeerder, kom daar 'n kwaai hongersnood oor die land. Sy vermoë is volkome uitgeput en sy vroeëre werkkrag ondermyn; ook is die weerstand van sy gees gebreek. In sy nood voeg hy hom by een van die burgers van daardie land, en word aangestel as varkwagter – ‘n uiters vernederende werk vir 'n Jood want die vark was die beliggaming van onreinheid (Lev 11:7). Maar die nood en honger is só groot dat hierdie oorweging geen beletsel word nie. Hy wil selfs van “die peule eet wat vir die varke” gevoer word, “maar niemand gee hom daarvan nie”. Dus sou hy dit moes steel om aan die lewe te kan bly. (Vermoedelik was dit die peule van die Johannesbroodboom wat hier bedoel word. Daardie peule het as voedsel vir die aller-armstes gedien.)

 

Hierdie allerdiepste ellende het 'n heilsame uitwerking gehad: dit rig sy gedagtes op die vaderhuis, en lei tot die besluit om terug te keer. Moontlik het hy wel by vorige geleenthede daaraan gedink om terug te keer, maar om daartoe te kon besluit, was onmoontlik. Vrees vir die toorn van sy vader was seker nie die sterkste faktor om hom terug te hou nie. Dit was eerder die innerlike onvermoë om sy sonde voor 'n ander te erken. Hy wou dit liewer verberg, liewer uithou, liewer self probeer oorwin in die hoop dat sy huismense nooit van sy diepe val te hore sal kom nie.

 

Dit het wel ontsettend veel geverg om hierdie vrugtelose menslike weerstand in sy hart te oorwin. Eers die allerdiepste ellende en ongelukkigheid bring hom daartoe om "tot homself te kom", en bereid te wees om hom voor sy vader te gaan verootmoedig. In sy nood “kom hy tot inkeer” (v 17) en die jongman gaan huistoe – met sy storie....... ‘n storie vir lewe!

 

“Wanneer die Jood op die vrugte van die Johannesbroodboom aangewys is, keer hy terug”          (Joodse spreekwoord).

 

Gebed: Here, ons het in ons lewe ook al baie foute gemaak en sonde gedoen, net soos die jongste broer in U storie. Ons het al selfs slegte keuses en foute probeer ignoreer maar sonder sukses daaruit getree. Dankie Here dat ons foute wat ons probeer wegsteek, nie vir U verborge is nie. Dankie dat U verby ons foute kyk en ons elke keer in genade en liefde deur die poort van hoop neem. Amen.

 

Please reload

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

H/v Eerstestraat & Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:30 - 17:30

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:30 - 17:30

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.