top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


Die Saaier se Droom (2)


Matt 13:1-3a – “Jesus het weer die mense langs die see begin leer...... Hy het onder andere gesê: ‘n Saaier het eendag gaan saai.......,’ V 8 – “Die ander saad het in goeie grond geval en ‘n oes gelewer .......”


Vergelyk ook Joh 15:8 – “My Vader word juis daardeur verheerlik dat julle baie vrugte dra en My dissipels is.”


Gister het ons afgesluit met: Ons wil wees soos: “Die man by wie daar op goeie grond gesaai is, is hy wat die woord hoor en dit verstaan” (Matt 13:23). Hierdie “woord verstaan” is om die boodskap “ter harte te neem” en ons gedrag daarvolgens te wysig. Jesus sê, hierdie gelykenis gaan nie oor verskillende soorte grond nie of hoe wonderlik die saad is nie. Dit gaan primêr oor die saaier. Die eintlike wekroep in die gelykenis is om in die uitvoering van die saaiwerk vir die koninkryk steeds die regte lewenshouding van die saaier te openbaar.


Daaruit is af te lei dat onder die hoorders van die woord hierdie vier tipes reaksie gevind sal word. Wanneer ons na die verskillende lewensareas of fasette van ons kyk, gaan ons verskillende soorte “grond” sien. In een area mag dit dalk lyk of ons lewe vrugbaar is. In net die volgende lewensarea benodig ons dalk nog baie diepte. In nog een ander area karring ons halsstarrig voort met ons eie planne en weier ons om dit oor te gee aan die Here. Elkeen van ons, kan as individu, al vier hierdie soorte “grond” wees.


Herhaaldelik ondervind die saaier dat drie uit die vier dele van sy saad om die een of ander rede onvrugbaar word en dat daarteenoor slegs een deel sy vrug dra. Hy het misoes op misoes, maar eindelik tog ook 'n oorvloedige oes. Die misoes skyn iedere keer driemaal so groot te wees as die goeie oes, maar die saaier raak nie daardeur mismoedig nie - sy plig en sy dagtaak word nie daardeur teruggehou nie. Hy het 'n innerlike hoedanigheid ontwikkel, of liewer, deur Gods genade verkry, om met ‘n misoes rekening te kan hou. Die skyn van teenspoed of van voorspoed verlei hom nie tot sorgeloosheid of verslapping nie. By hom is daar geen valse pessimisme nie, maar wel 'n onwankelbare vertroue op God wat reën en wasdom gee en wat die egte en oorvloedige oes op sy tyd sal skenk om sy hart as getroue saaier te verbly.


Maar dit gaan ook nog veel verder, dit gaan om die vrug van die Woord in die lewe van die mens. Dit beteken dat ons ons hele lewe in al sy uitinge, tot beskikking gestel sal wees van die hemelse Saaier, sodat Hy sy woord daarin kan saai en ons lewe soos 'n goeie akker die vrug van die woord sal voortbring. Die rykdom van die vrug gaan alle verwagting te bowe. Dit word 'n volle skuur tot seën van die medemens en die nakomelinge. So 'n volheid kan die saad van die woord ook in ons tyd voortbring om 'n hongerige wêreld te voed.


Maar dan moet daar veel meer wees wat die woord "in 'n edele en goeie hart hou en met volharding vrug dra." En daarby wag die Here op sy volgelinge om, ten spyte van skynbare misoes na misoes, as getroue, volhardende saaiers van die lewendmakende Woord op te tree.


God is die gróót Saaier in ons lewe. God saai egter met ‘n doel en Hy wag geduldig op die groeiproses. Hy saai die Woord, mense, ervarings, kennis en nog vele meer om in ons lewe te ontkiem en vrug te dra. Elkeen van ons is ‘n saaier in eie reg. Ons belê weer in ander se lewens met tyd, insette en moeite. Die voloes is in die toekoms weggelê. Dit sal wees “die een dertig-, die ander sestig-, die ander honderdvoudig” (13:23b).


Die belangrike om te onthou, is dat die Here nogtans sy genade oor ons gesaai het. Ons word in ‘n sekere sin ook “saaiers.” Weliswaar veel kleiner as die Groot Saaier, maar as ons dissipels van Jesus is, is ons besig om van ander mense ook dissipels te maak – en ons doen dit deur in hulle te saai. En net soos die Groot Saaier nie na ons gekyk het en ons gediskwalifiseer het op grond van al die areas in ons lewens wat verhard of vol onkruid is nie, so mag ons ook nie mense van die genade van die Here “ontsê”, omdat ons dink hulle “buite die bereik” van die Here is nie.


Die saad van God se Woord wat ons saai, moet sonder uitsondering gesaai word aan almal. Dit is immers die enigste saad wat die toets van die tyd deurstaan het en nog sal deurstaan en ‘n Godgrootte opbrengs kan lewer.


“GESAAI OM TE SAAI” (Ons gemeente se leuse vir 2016)


Gebed: Hemel Vader, baie dankie dat U ons nie gediskwalifiseer het toe U na ons verharde lewens vol onkruid gekyk het nie maar ten spyte daarvan, U genade oor ons gesaai het. Skenk ons die krag en bemoedig ons om as dissipels te volhard om die Goeie Saad van U woord te saai want ons weet hierdie saad se misterieuse lewegewende krag is van U Gees afkomstig. Dankie dat ons, sonder uitsondering aan ons gemeente se leuse kan voldoen deur “Gesaai te wees om te Saai” sodat U hierdie saad – die woord van God – in iemand se lewe kan laat ontkiem. Amen.



Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page