top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


Die Saaier se Droom (1)


Matt 13:1-3; 5; 7 – “Jesus het weer die mense langs die see begin leer. ‘n Groot menigte het só om Hom saamgedrom dat Hy in ‘n skuit geklim en daarin gaan sit het, maar die mense het almal op die strand bly staan. Hy het hulle baie dinge in gelykenisse vertel en onder andere gesê: ’ ‘n Saaier het eendag gaan saai....... ,’ V 3 – “Met die saai het ‘n deel op die pad geval....,’ V 5 – ’ ‘n Ander deel daarvan het op klipbanke geval.....,’ V 7 – ’ ‘n Ander deel het tussen die onkruid geval....”


Vergelyk ook Joh 12:24 - "Dit verseker Ek julle: As ‘n koringkorrel nie in die grond val en sterwe nie, bly hy net een; maar as dit sterwe, bring hy ‘n groot oes in.”


Wat kan ons nuut leer by hierdie oorbekende gelykenis? Daar kan tog niks vars of verrassend oor dit gesê word nie? Ons het immers met die gelykenis grootgeword en ons almal weet waaroor die boodskap gaan. Maar is dit so eenvoudig?


Dit blyk dat die saaier in hierdie gelykenis onverskillig saai. Hy “mors” as’t ware sy saad. In die regte lewe sal geen boer so ongeërgd saai deur saad links en regs te strooi waar hy weet dit nie gaan opkom nie. Dit is ‘n hopelose saaier wat so saai dat meeste van die saad op verkeerde plekke val — drie-vierdes daarvan gaan veroorsaak dat hy geen oes gaan kry nie weens die gesteldheid van die grond.


“Met die saai het ‘n deel op die pad geval, ‘n ander deel op klipbanke, waar daar nie baie grond was nie en ‘n ander deel tussen die onkruid wat die gesaaides verstik het” (vv 3, 5, 7). Jesus se verklaring van die gelykenis verskuif na die geaardheid van die grond waarin die saad te lande kom. Die gesteldheid van die grond dien as weerspieëling van die gesteldheid van ons harte waarin die woord gesaai word. Dáár gaan drie dele van die woord so maklik verlore.


Die deel op die pad verwys na die gevaar van hardvogtigheid of hardnekkige weiering om aan die eise van die evangelie gehoor te gee - diegene wat volstrek weier dat die woord daar ingang vind. Dit is 'n harde pad van haastige voete, en dáár gaan die saad verlore. As jy weer sien, het die saad wat gesaai is, verdwyn. Hier kom ook van die duiwel se aandeel ter sprake. Daaruit lei ons af dat waar die woord opsetlik verhinder word om ingang te vind, dit gesien moet word as 'n besondere werk van Satan. Hy wil nie hê dat ons moet glo nie en ook nie die Woord met ongelowiges moet deel nie.


Die tweede deel op die klipbank waarsku teen die opvatting dat met die blote hoor van die woord die saak afgehandel is. Die woord moet immers ook bewaar en beskerm word teen alle pogings wat kan verhinder dat dit tot volle wasdom en vrug sou kom. In die een geval is daar geen diepte nie. Juis hierdie feit lei tot 'n vroegtydige ontkieming en 'n skielike verdorring. Waar die woord geen lewensdiepte vind nie, kan dit wel vir 'n oomblik opskiet, maar nie werklik tot groei kom nie. Die saad is wel goed, maar die gesteldheid van die grond maak die ontwikkeling onmoontlik.


In die derde geval waar die saad tussen die onkruid val, word die dorings verklaar as die sorge van die lewe wat die groeiende koring verstik. Met die sorge van hierdie wêreld word stellig nie bedoel die besorgdheid oor die veilige en gelukkige bestaan op aarde nie. Trouens, hierdie dinge is juis die raamwerk waarbinne die saad sy vrug moet dra. Die sorge ontstaan veeleer omdat die wêreld vervreemd geraak het van God en sy Woord. As ons buite God om werk, sal daar sorge wees. Ongelukkig is ons juis van nature geneig om dit te doen, en daarom kan die saad van die woord in ons harte wel groei maar nie tot vrug kom nie.


Ons wil wees soos: “Die man by wie daar op goeie grond gesaai is, is hy wat die woord hoor en dit verstaan” (Matt 13:23)


Gebed: Ons Vader in die hemel. Ons lees en hoor U stem deur U woord – woorde van genade en redding. Ons luister na die verkondiging daarvan en na getuienisse van mede-Christene. Ons ervaar dit tasbaar deur die sakramente van die doop, die brood en die wyn. Die “saad” van die evangelie is goed, maar Here, die “grond” wat dit moet ontvang, is nie altyd omgespit nie. Verwyder hierdie oppervlakkigheid uit ons lewe sodat die “saad” nie net ons harte raak en ons ore bereik nie, maar dat dit sal vrug dra sodat ons U Naam kan verheerlik. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page