top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


Gevaarpunt 10 : Selfstandigheid teenoor God (2).


Jak 4:13-14 – “Kom nou, julle wat sê: ‘Vandag of môre sal ons ......” VV 15-17 – “Julle moet eerder sê: ‘As die Here wil, sal ons lewe en sal ons dit of dat doen.’ Maar nou is julle te seker van julleself en praat julle groot. Al sulke grootpratery is verkeerd. As iemand weet wat die regte ding is om te doen en hy doen dit nie, is dit sonde.”


Vergelyk ook Ps 103:15-16 – “Die mens, sy lewensduur is soos dié van gras, soos dié van ‘n veldblom wat oopgaan: as die woestynwind daaroor waai, is dit weg en sy plek vir altyd leeg.”


Die mens se bestaan op aarde is maar kortstondig. Jakobus wil vir ons die korrekte gesindheid voorskryf dat ons erkenning aan God se beskikking moet gee wanneer daar enige toekomsplanne gemaak word. God se heilsweg in hierdie geval vind oortuiging in “as die Here wil, sal ons lewe en sal ons dit of dat doen.” Dit is méér toepaslik in die volledige beplanning van ons lewe.


Een van die gawes van die mens is die vermoë om vooruit te kan beplan. Jakobus se argument is dat dit ‘n skewe realiteit is van iemand met té veel selfvertroue en nie God insluit in sy beplanning nie: “maar nou is julle te seker van julleself en praat julle groot." Hulle roem eintlik in hul arrogansie en wanneer die beplanning realiseer, word dit aan “toevallig” toegegee. Wanneer dinge in ‘n Christen se lewe “toevallig” gebeur, bely ons teenoor die wêreld dat ons nie die beskikking en voorsienigheid van God ernstig opneem nie.


Die uitvoering van ons voornemens vir die toekoms, is geheel afhanklik van die die wil van God. As ons nadink oor die dinge waaroor ons loop en grootpraat, sal ons besef dat ons loop en roem oor dinge en omstandighede waaroor ons nie beheer het nie. Al daardie soort grootpratery (roem) is sleg en sondig, omdat dit die majesteit van God aantas! Dit is beter om te leef met die gesproke voorwaarde van “as die Here wil.”


Ons moet egter waak dat “as die Here wil” of die gebruiklike “DV, (Deo Volente – indien die Here wil)”, nie ‘n sinnetjie word wat uit gewoonte of bygeloof gebruik word nie. Ons moet onthou dat die gebruik daarvan, juis ons afhanklikheid aan God openbaar. In teenstelling daarmee moet ons dan aanvaar wanneer ons beplanning van “môre” nie realiseer nie, dit die wil van die Here is. Dan moet ons met die “wil van die Here” vrede maak.


"How foolish it is for a man to make plans for his life, when not even tomorrow is in his control. No man has such rich friends that he can promise himself tomorrow" (William Barclay).


Gebed: Here, ons erken dat U ewig is en in beheer van alles is en dit komplementeer ons verganklikheid en afhanklikheid aan U. Deur te roem op ons “beheer” oor die dag van môre, is ‘n grype na valse grootheid en selfstandigheid wat ons nie beskore is nie. Dit is om inbreuk te maak op die eer wat U toekom en dan raak ons die pad byster – U pad, die regte pad. Dankie dat U ons elke keer daar kom haal en op U pad terugplaas. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page