top of page

Gedagte vir Vandag


Gevaarpunt 9 : Oordeel oor Ander (Skinder).


Jak 4:11-12 – “Moenie van mekaar kwaad praat nie, broers. Hy wat van sy broer kwaad praat of sy broer veroordeel, praat kwaad van die wet en veroordeel die wet. En as jy die wet veroordeel, handel jy nie meer volgens die wet nie maar speel jy regter daaroor. Daar is egter maar een Wetgewer en Regter, en dit is Hy wat die mag het om te red en te verdelg. Maar jy, wie is jy om regter te speel oor jou naaste?”


Vergelyk ook Ps 50:19-20 – “As jy jou mond oopmaak, praat jy kwaad; jou tong ryg bedrog aanmekaar. Jy sit en praat teen jou broer, jou eie broer beswadder jy.”


Jakobus verskuif weer sy vermaning na die adres van die binnekring van die gemeente. Die bedreiging is dat Christen gelowiges hulself aanmatig om mekaar te veroordeel. Hul verhouding teenoor medegelowiges is teenstrydig met die wil van God daarom bring hy selfs die wet en God as die Hoogste “Wetgewer” by. Wat hy eintlik sê is dat die “broers (en susters)” die wêreld in die kerk ingebring het wat afbrekend is op die eenheid van die gemeenskap.


Kwaadspreking of skinder word reeds vanaf die vroegste tye aangespreek: ”Jy mag nie loop en skinder nie, jy mag nie jou medemens se lewe in gevaar stel nie. Ek is die Here” (Lev 19:16). Die Here wil juis deur die wet ons daaraan herinner dat ons naasteliefde moet betoon en nie valse getuienis teenoor ons naaste lewer nie. Sodra ons dan die wet oortree, verhef ons onsself bo die wet. Die wet is nou nie meer die rigsnoer nie, maar die spieëlbeeld wat waargeneem word is die eie-ek mentaliteit wat besluit hoe ons medemens behandel moet word. Die Wetgewer is verwerp en ons het die rol van die Regter oorgeneem.


Hulle wat so maklik ander mense verdoem, kom in die skaduwee van God te staan en moet hul eie kleinheid en onbevoegdheid besef. Die selfoorskatte “ek” moet tot besinning gebring word deur te besef van wie “ek” in werklikheid eintlik is, en nie op God se bevoegdheidsterrein te oortree nie. Hierdie oortreding hou ‘n groot risiko in ten opsigte van die eindtyd: “Moenie bang wees vir dié wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie. Nee, vrees Hom eerder wat sowel die liggaam as die siel in die hel kan laat vergaan” (Matt 10:28). Net God het die mag “om te red en te verdelg.”


Hy wat wil “regter speel oor sy naaste” om die sogenaamde “waarheid” van ander aan die “lig” te bring, moet besef dat die “Lig van die Lewe” anders voorskryf. Kom ons beheer die gebruik van die tong wanneer dit by daardie bekende “ek wil nou nie skinder nie, maar ....,” of dalk “ek wil nou nie kritiek lewer nie, maar .......” en dan die mees populêre: “Moenie dit oorvertel nie, maar het jy gehoor .....,” kom, en gebruik dit eerder vir voorbidding vir mekaar.


Al sou die aanmatigende oordra van die brokkie “nuus” feite wees of selfs bewys kan word, is die ander persoon nie daar om homself te verdedig nie. “Wie is jy om regter te speel oor jou naaste?”


“Kwaadpraters is roofdiere wat nie eens wag tot hul slagoffers dood is voor hulle hul verskeur nie” (George Meredith)


Gebed: Hemel Vader, ons is so geneig om U ander skepsels te oordeel. Ons wil so graag mense se sondes vír hulle bely, maar ongelukkig dit nie by U doen nie maar eerder dit aan ander oorvertel en dan soms nog met smaak doen. Here, ek moet bely dat my woorde tref ander meer kere skerp in die maag as sagweg in die hart. Ek plaas vandag my tong in U hande. Verander my woorde in goeie medisyne vir elkeen binne hoorafstand daarvan. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page