top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


Gevaarpunt 8 : Verleiding van die Wêreld (4).


Jak 4:1 – “Waar kom die stryd vandaan.......?” V 2b – “Julle kry nie, omdat julle nie bid nie ........... V 6 – “Maar die genade wat Hy gee is nog groter. Daarom sê Hy: ‘God weerstaan hoogmoediges, maar aan nederiges gee Hy genade.’ Onderwerp julle dan aan God. Staan die duiwel teë en hy sal van julle af wegvlug. Nader tot God en Hy sal tot julle nader. Was julle hande, sondaars, en reinig julle harte, huigelaars. Bekla julle ellende, treur en huil! Laat julle vrolikheid in rou verander en julle blydskap in droefheid. Onderwerp julle in nederigheid voor die Here, en Hy sal julle verhoog.”


Vergelyk ook Spr 3:34 – “God weerstaan hoogmoediges, maar aan nederiges gee Hy genade.”


Sedert Jakobus die vraag gestel het “waar die stryd vandaan kom,” is die gevolgtrekking dat die kernoorsaak van hierdie stryd by die mens self gesoek moet word. “Ek wil hê; Ek wil sus of so maak; Ek begeer; Ek verdien om te besit. Die wêreld skuld my en as ek nie kan kry nie, vat ek net doodeenvoudig. Ek.... ek.... ek, alles ek.” Die probleem egter van hierdie ekkigheid, is dat mens later net soos die wêreld word, lyk en praat – ‘n wêreld wat mens só insuig en verswelg dat jy later sonder God begin leef. Die wêreldvreugdes sluk jou onbewustelik in dat jy jouself nie meer in die spieël van 1:23 kan erken nie. Met ons menslike swakheid van begeertes en selfsugtige belange, staan ons skuldig voor God met GROOT sondes!


“Maar God se genade is nog GROTER! Aan nederiges gee Hy genade.” Selfs die “hoogmoediges wat God eintlik weerstaan,” het ook ‘n kans op hierdie genade. Ten spyte van die waarskuwing, kan hulle, as hulle tot inkeer kom en die regte sielsbegeerte na God en sy diens openbaar, seker wees dat ons God met só ’n genade op hulle sal reageer.


Met die genade van God kan ons ‘n suksesvolle aksie loods teen die invloed van die duiwel sodat Hy van ons sal wegvlug. Om hierdie bose kringloop van jaloesie (naywer), selfsug, hoogmoed en konflik met God te verbreek gee Jakobus ‘n besliste en uitnemende instruksie: “Onderwerp julle dan aan God!” Kom tot inkeer – kies die heilspad want die blydskap en genot van die wêreld eindig in droefheid – ons toekoms by God word op die spel geplaas.


Saam met die instruksie volg ‘n indringende selfondersoek – kyk in die spieël en neem die duidelike beeld waar van die haglike omstandighede waarin die wêreldsdinge ons geplaas het. Die persoonlike verhouding met God moet herstel word. Die afstand wat deur opstand en afdwaling na die wêreld onstaan het moet oorbrug word. Die keuse van “onderwerping aan God” gaan dan gepaard met ‘n daadwerklike handeling: “Nader tot God; Was julle hande; Reinig julle harte; Bekla julle ellende, treur en huil; Onderwerp julle in nederigheid voor die Here; Laat julle vrolikheid in rou verander en julle blydskap in droefheid.”


Jakobus se oproep om ‘n omkeer van waardes te ondervind, is duidelik: Wys my dat jou hart nie plek het vir vuilhede nie en dat dit suiwer en alleen op die Here gerig is – en ek sal weet dat jou geloof opreg is! (2:14). Selfvernedering voor God deur skulderkenning en ’n besef van eie ellende is die mens se verpligting. God se reaksie hierop is oorweldigend. Hy buig telkens af na ons toe - “Hy sal tot julle nader.” Hy verneder of verwyt ons nie, maar “Hy verhoog ons” as Sy kinders. Hy maak ons nuut! Dáároor kan ons weer uitbundige lewensvreugde ervaar!


“Niks minder nie as totale oorgawe aan Christus is ‘n gepaste antwoord op Golgota” (John Flavel).


Gebed: Here, ons is hartseer omdat ons maklik uit pas raak en toelaat dat wêreldsdinge, die toekoms by U op die spel plaas. Ons weet dat dit slegs tydelike genot verskaf en beslis nie deel is van U vreugdes nie. Dit loop dood in ‘n konfrontasie met die Ewige. Ons is jammer Heer, vergewe asseblief, ons verhouding het skipbreuk gely. Ons wil graag opnuut terugkeer na U toe. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page