top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


Gevaarpunt 7 : Stryd om Voorrang (1)


Jak 3:13-14 – “Is daar ‘n wyse en verstandige mens onder julle? Dan moet hy dit toon deur sy goeie gedrag en deur dade wat van nederigheid en wysheid getuig. Terwyl daar bittere naywer en selfsug in julle harte is, moet julle nie daarmee spog dat julle wysheid het nie, want dan praat julle nie die waarheid nie.


Vergelyk ook Jak 1:5 – “As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid, en Hy sal dit aan hom gee, want God gee aan almal sonder voorbehoud en sonder verwyt.”


Jakobus is nie sarkasties wanneer hy sy lesers vra of “daar ‘n wyse en verstandige mens onder julle” is nie. Hy aanvaar daar is en daarom praat hy juis met hulle wat verstandig en wys is, net soos met ons. Wysheid het niks met slimmigheid of hoë intelligensie te make nie, maar die vermoë om te kan onderskei. Dit is ‘n “gawe van God” (1:5). Alle mense dink weer hulle is verstandig. (Elke meerkat dink sy stert het die meeste wol).


Dit is ‘n valse redenasie as ons gelowiges dink dat wysheid en verstandigheid geskei kan word. Waar die Heilige Gees werk en waar ware geloof is, is beide teenwoordig. Wysheid en verstandigheid kom saam tot openbaring in die geloofsvrugte wat ons lewer – wanneer ons “dit toon deur ons goeie gedrag en deur dade wat van nederigheid en wysheid getuig.” Wanneer ons in die spieël kyk en nie te gou wegdraai nie (1:23-24), behoort ons die vraag te vra of ons gedrag die wysheid weerspieël wat ons aan ander voorhou? Kan ons met eerlikheid erken dat ons lewe die waarheid van ons geloof weerspieël? (Veral aan hulle wat volgens ons “popeys” of “dom ape” is). Saligmakende wysheid gaan gepaard met nederige en sagmoedige gedrag!


Suggereer Jakobus dat sy lesers in hul gemeentes dalk skuil agter motiewe van “bittere naywer en selfsug?” Gee hulle dalk voor dat agter al hul wysheid en verstandigheid, bybedoelings is? Naywer en selfsug is nie deel van wysheid nie, dit is ‘n ek-gesentreerde wat met my wysheid spog terwyl ek voorgee dat ek die heil van ander soek. Eintlik is dit dan ‘n leuen en “dan praat ek nie die waarheid nie.” En die oorsprong waar hierdie leuen ontwikkel: die hart.


Afguns, naywer en selfsugtigheid is sonde. Al hierdie dinge is selfverheffing oor ander mense en het gewoonlik konflik tot gevolg. Hierdie sondes beteken dat die mens wat dit doen, ‘n baie hoë premie stel op sy eie werke en wyshede. Dit is ‘n duiwelse wysheid wat sy oorsprong in ‘n ongesonde hart het wat gevul is met twis, naywer, selfsug en eie belang. (Dan is daar diegene wat dit koppel aan sterk leiereienskappe? Ongelooflik!!!)


“Wysheid begin by die dien van die Here” (Spr 10:9).


Gebed: Hemelse Vader, deur Jakobus laat U ons vandag in ‘n spieël kyk en tot die gevolgtrekking kom dat ons nie altyd so wys is as wat ons dink nie. Dit grens eintlik aan oneerlikheid teenoor onsself. Die waarheid is dat ons dus weet ons is nie so wys en tog bly voorgee om dit te wees. Ons goeie gedrag en dade van nederigheid en wysheid moet vir almal sigbaar wees maar dit pas nie altyd by ons oortuigings nie. Here, gee ons die wysheid om só op te tree dat ander in ons kan sien hoe groot U genade is. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page