top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


Gevaarpunt 5 : Goed Doen (3)


Jak 2:18 – “Maar iemand kan miskien sê: ‘Die een het die geloof en die ander het die dade.’ Goed, wys dan vir my jou geloof wat sonder dade is, en ek sal jou my geloof wys uit my dade.”


Vergelyk ook Ef 2:10 – “In Christus Jesus het God ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het.”


Jakobus haal hier miskien ‘n redenasie tussen twee gemeentelede aan of alternatiewelik is hy besig met ‘n teenargument van ‘n fiktiewe woordvoerder. Die twee persone verskil in die sin, dat een die geloof het en die ander een die dade. Hy beweer geensins dat iemand verkeerdelik vir die geloof alleen sou kies, terwyl hy self met reg, slegs op die werke sou roem nie. Hieruit blyk dit egter dat daar wel gemeentelede is met ‘n baie mooi geloof, maar niks doen vir die Here en die gemeente nie, die sogenaamde “passasiers-lidmate.” Daarteenoor is die ander persoon wie se geloof dalk nie so sterk is nie, die hardwerkende een vir die Here en in die gemeente. Die redenasie is dan dat beide persone saligmakende geloof het maar op verskillende maniere openbaar of toepas.


Mense verskil, en terwyl sommige vir God aanneemlik mag wees op grond van hulle geloof, kan ander dit tog ook wees deur hulle werke. Die fout van hierdie redenasie is dat geloof en dade van mekaar losgemaak word. Dan word die redenasie eintlik: “Goed, wys dan vir my jou geloof wat sonder dade is” sodat die geloof gesien kan word. Daar is géén manier om ’n geloof-sonder-werke te demonstreer nie, maar ’n egte geloof wél: “en ek sal jou my geloof wys uit my dade.”


Die een persoon is die kop van die geloof en die ander het die hande van barmhartigheid in hierdie “liggaam van die gemeente.” Los van goeie dade word “geloof” ’n vlugtige illusie, ’n inbeelding van wat nie bestaan nie of wat in elk geval “sigbaar” dood is! Geloof word bewys met dade. ‘n Waaragtige geloof moet uit sy aard vrugte dra – werke wat by geloof behoort wat God en ons naaste dien. Wat help dit die Here stuur iemand na ons toe vir hulp maar ons spreek net die Here se seën oor hom uit en ons stuur hom terug na die Here toe.


Geloof is ‘n gewisse kennis en ‘n vaste vertroue van ons verlossing soos God dit in Sy woord openbaar. Daarom is geloof juis die aksie waarmee hierdie kennis en vertroue nou uit ons uitwerk na buite, om sodoende die koninkryk van God uit te bou. Ons word gered deur hierdie geloof in Jesus Christus, nié deur ons werke nie, maar ons word gered om te werk! Daarom gebruik Jesus ons om Sy werk op aarde voort te sit, anders sou Hy engele gestuur het om dit te kom doen. As die merkbare verskil wat geloof aan iemand se lewe maak op zero te staan kom, dan is dit geregverdig om die geloofsvlak ook op die nulpunt te plaas.


“Alle Christene is ‘glo-mense,’ anders kan hulle nie gered word nie. Alle Christene moet ‘doen-mense’ wees omdat hulle gered is” (Ds. Johan Smit).


Gebed: Dankie Here dat U ons gered het. Dankie dat U daarmee ‘n doel het: Om God te verheerlik en daarom wil ons dit wys met ons dade van die liefde en om oortuig te wees dat geloof en goeie dade ’n onlosmaaklike eenheid vorm. Dankie Gees dat U ons bystaan en lei om dissipels te kan wees wat doen en uitleef wat ons hoor en glo. Amen.



Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page