top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


VERSOEKING EN VERLEIDING


Gevaarpunt 2 : Versoekings (2)


Jak 1:16-18 – “Moenie julself mislei nie, my liewe broers (en susters). Elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk kom van Bo. Dit kom van die Vader wat die hemelligte geskep het maar wat self nie soos hulle verander of verduister nie. Omdat dit sy wil was, het God ons deur die woord van die waarheid tot die lewe gebring, sodat ons, om dit so te stel, eerstelinge kan wees van alles wat Hy geskep het.”


Vergelyk ook 1 Kor 15:33 – “Moet julle nie laat mislei nie: Slegte geselskap bederf goeie sedes.”


Jakobus het begrip vir die afdwalery a.g.v. versoeking en verleiding, daarom spreek hy sy lesers aan as “my liewe broers (en susters).” Omdat hy uit liefde handel, preek hy nie vir ons uit die hoogte uit nie maar skroom ook nie om die waarheid by die naam te noem nie. Hy wil voorkom dat ons met die dwaling voortgaan en pleit amper dat ons nie ons laat mislei nie.


Ons is verantwoordelik vir ons eie sondeval. “Elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk kom van Bo” en daarom mislei ons onsself om die skuld op God of iemand anders te wil pak. God stuur nie versoekings op ons pad nie, inteendeel, Hy gee ons “goeie en volmaakte gawes” om juis die sonde te beveg. Om dit in perspektief te bring, verduidelik Jakobus God se rol in die skepping van die hemelligame en die mens. Die son, maan en sterre se skepping is verbysterend en is dit ook onderhewig aan verandering. Die onveranderlike God het toe die grootste skepping ooit voltooi – die mens, ons!


Ons is die nommer een faktor in God se skepping omdat “ons deur die woord van die waarheid tot die lewe gebring, sodat ons, om dit so te stel, eerstelinge kan wees van alles wat Hy geskep het.” God het ons voortgebring “deur die woord van die waarheid” – “Toe het God gesê: ‘Kom Ons maak die mens as ons verteenwoordiger, ons beeld.....(Gen 1:26). Hy kán ons dus nie in versoeking lei nie want Hy wil nie hê dat ons met sonde bevlek moet wees nie, sodat ons ongeskonde Sy beeld van heerlikheid in hierdie deurmekaar wêreld kan vertoon. Ons tree dus op as gesante van Christus want ons behoort aan Hom! Die Heilige Gees help ons hiermee!


“Iemand wat aan Christus behoort, is ‘n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom. Dit alles is die werk van God (1 Kor 17-18a). Hy lei ons úit die versoeking en verleiding uit. Sy Gees lei ons verder deur die Lewende Woord in die Waarheid na die Weg van die Lewe! Gelowiges in Jesus Christus is die eerste deel van God se herskepping wat bedoel is vir die hemel. God is vrygewig, God is genadig, God voorsien net die beste – daarop kan ons staat maak. Daarvoor kan ons bid. Daarvoor kan ons geduldig wag want ons is “eerstelinge van alles wat Hy geskep het.”


Gebed: Dankie vir U goedheid Heer. Dankie dat U ons uit genade herskep het en nuut gemaak het deur Jesus, ons Vleesgeworde Woord. Help ons o Gees dat ons as nuutgemaakte wesens standvastig sal bly en sal leef as medewerkers in U koninkryk. Amen.



Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page