top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


ARM EN RYKDOM KONFLIK


Probleem 1 : Besittings


Jak 1:9-11 – “’n Gelowige wat arm is, moet hom daarin verheug dat God hom aansien gee, en een wat ryk is, dat hy arm is voor God, want ‘n ryk mens sal vergaan soos ‘n veldblom. As die son met sy gloeiende hitte opkom, verskroei dit die plantegroei, die blomme val af en die prag is daarmee heen. So sal die ryke ook tussen al sy bedrywighede deur vergaan.”


Vergelyk ook 1 Tim 6:17 – Dié wat in hierdie wêreld ryk is, moet jy waarsku om nie hooghartig te wees nie. Hulle moet nie hul hoop op die onsekerheid van rykdom vestig nie, maar op God wat alles ryklik aan ons gee om te geniet.”


Jakobus bring nou ‘n praktiese saak na vore waarvoor wysheid nodig is: die konflik tussen ryk en arm. Die kloof tussen ryk en arm het waarskynlik in die vroeë kerk ook vir konflik gesorg, veral vir die gelowiges wat ontwortel is en derhalwe was swaarkry, armoede en onsekerheid deel van hul daaglikse bestaan. Hulle het waarskynlik die rykes beny.


Hy roep die armes op om bly te wees. Hulle moet hul verheug daarin omdat God hul aansien gee. Waarom nogal? Arm mense word van die vroegste tye af nie gereken nie. Hulle word as minderwaardiges aangesien en is gewoonlik as ondergeskiktes behandel. Jakobus trek hulle opsigtelik nader en spreek hulle aan as gelowiges – gelowiges in Christus wat “hom daarin kan verheug dat God hom aansien gee.” Op ‘n besondere manier kan ‘n arme met blydskap triomfeer oor sy beproewings want hulle geniet God se aansien – hulle is Koningskinders.


Die ryke daarenteen, kan hom ook verheug veral wanneer hy besef dat hy voor God arm is. Hy moet ontdek dat hy verganklik is “soos ‘n veldblom wat in die somerhitte kan vergaan.” Net soos die arm mens bly die ryke afhanklik van God. Elke mens van vlees en bloed moet wegkyk van wêreldskatte wat moontlik kan lei na ‘n waardigheidsgevoel bo sy medegelowige, en eerder dinge van ewigheidswaarde na te streef.


Deur ‘n mens se oog lyk rykdom só begeerlik maar deur God se oë is dit tydelik en onbeduidend. Rykdom, mag en aansien voeg geen ekstra dag by enige mens se lewe nie. Dít wat nou waargeneem word deur al die prag en praal, is nie die eindadres nie. Sonder God brand die son (van God se geregtigheid) dit droog en weg, sodat daar niks oorbly nie. Met ‘n arm status kan mens dalk nie ‘n brood koop nie, maar die kindskap van God is met Jesus se bloed betaal. Die rykste mens op aarde kan nie ‘n druppel van Jesus se bloed bekostig nie. Dit is moontlik dat ‘n ryke só besig is met al sy aardse bedrywighede en so al woelende sy laaste asem uitblaas.... om alles agter te laat.... en waar te eindig? Sonder God of met God?


God het die hande met vingers geskep sodat geld kan deurval. (Martin Luther)


Gebed: Here, vanoggend het ons weereens tot die besef gekom dat niks wat van U af kom, met geld gekoop kan word nie. Die resep vir geluk is nie op geldnote gedruk nie, maar ‘n verhouding met U, o Heer. Daarom stel ons nie ons vertroue in die mot-en-roes dinge nie, maar op U wat ewigheidswaarde bied. Dankie Gees van God vir die besef dat geld ‘n kruis kan koop, maar nie ‘n Verlosser nie, ‘n aardse tempel selfs, maar nie die hemel nie, en dít, kan enigeen bekostig! Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page