top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


AMEN! (5)


Matt 7:28-29 – “Toe Jesus klaar gepraat het, was die skare verbaas oor Sy onderrig, want Hy het hulle geleer soos ‘n man met gesag en nie soos hulle skrifgeleerdes nie.”


Vergelyk ook Ps 37:23-24 – “Die Here bepaal die koers van die mens met wie se pad Hy tevrede is, en Hy ondersteun hom. As so iemand val, bly hy nie lê nie, want die Here help hom op.”


Wanneer Jesus Sy Bergpreek afsluit, maak Hy doodseker dat elkeen wat na Sy woorde geluister het, weet dat hul finale bestemming afhang van wat hulle daarmee gaan doen – daarvolgens handel of nie. Jesus kwoteer nie woorde van die Skrif nie maar weergee absolute waarhede omtrent Homself. Hy is die “Woord wat mens geword het en onder ons kom woon het” (Joh 1:14). Moses het die wet wat hy van God ontvang het aan die mense gegee, maar “die genade en die waarheid het deur Jesus Christus gekom” (Joh 1:17). Daarom kon Jesus sê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader behalwe deur My nie” (Joh 14:6). “In Hom is al die verborge skatte van wysheid en kennis te vind” (Kol 2:3).


Een van die magtigste en geweldigste uitsprake van Jesus vind ons in Heb 1:3 – “Uit Hom straal die heerlikheid van God en Hy is die ewebeeld van die wese van God. Hy hou alle dinge deur Sy magswoord in stand.” Jesus het op ‘n dag in die omgewing van Kapernaum aan die noordwestelike oewer van die See van Galilea teen ‘n berg uitgeklim en aan almal wat hom gevolg het, ‘n nuwe grondwet van God se koninkryk kom meedeel. Daardie dag kon almal hoor wat die voorregte van hierdie koninkryk inhou maar terselfdertyd hoor watter eise geld vir elkeen wat Jesus se voorwaardes wil volg. Dit was nie maar net nog ‘n politieke sisteem naas al die ander menslike instellings hier op aarde nie. Nee, dit is ‘n lewensomvattende hemelse sisteem wat ons hele menswees oorneem en in God se diens stel.


Jesus is die Alfa en Omega van Christenskap. Hy is die Bron van alle lewe en die Fondament van elkeen wat Sy woorde aanneem en daarvolgens handel. Ons kan nie Jesus kies as ons nie Sy woorde ook kies nie. Om godsdienstig te wees sonder ‘n lewende verhouding met Jesus, beteken om kerk-kerk te speel. Ons moet erken en bely, dit is soms moeilik om gehoorsaam te wees aan Jesus se vermanings, versoeke en waarskuwings.


Gelukkig het Hy ons nie as weeskinders agtergelaat toe Hy opgevaar het hemel toe nie. Hy het vir ons die Heilige Gees gestuur sodat ons deur Sy krag kan besef dat ons afhanklik is van God. Die Gees vul ons met hoop, lei en bemagtig ons om moeilike dae die hoof te bied. Om volgens die plan van die Bergrede te lewe is moeilik om heelpad te slaag, maar ons kan immers probeer om op die regte pad te bly. Wanneer ons egter uitsak of "val, bly ons nie lê nie, want die Here help ons op.”


Gebed: Here, Ons het aan die einde van U pragtige Bergpreek gekom. As ons eerlik moet wees, rig en bou ons ons lewens nie altyd volgens U spesifikasies en soos U versoek nie. Aan die einde van U preek wil ons graag Amen sê. Ons bevestig alles wat U gesê het en dit beteken om te doen wat U vra. O Heilige Gees, skenk ons die krag om déúr U, gehoorsamer dissipels van Jesus te wees. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page