top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


AMEN! (2)


Matt 7:28-29 – “Toe Jesus klaar gepraat het, was die skare verbaas oor Sy onderrig, want Hy het hulle geleer soos ‘n man met gesag en nie soos hulle skrifgeleerdes nie.”


Matteus dui in hierdie vers aan dat Jesus die skare “nie soos hulle skrifgeleerdes," geleer het nie. Die skrifgeleerdes was op grond van hul noukeurige studie van die Skrif, veral van die wet van Moses en van die oorgelewerde godsdienstige gebruike van die voorgeslagte, as invloedryke godsdienstige leiers van die Joodse volk beskou. Hulle was beskou as saghebbende uitleggers van die Skrif wat die voorskrifte vir die godsdienstige lewe van die volk moes bepaal. Een derde van die lede in die Joodse Raad (Sanhedrin) het uit skrifgeleerdes bestaan, m.a.w., mense van aansien.


Hulle was egter nie baie geïnteresseerd om die inhoud van die wet soos wat Moses dit van God ontvang het, te bestudeer nie. Hulle leringe was eerder bepaal op die verskillende tradisies en gebruike van hul voorgeslagte rondom die wet. ‘n skrifgeleerde het aanhalings van vorige skrifgeleerdes gebruik, sy eie interpretasie daarby gevoeg en aan die volk voorgelê. Daar kon dus geen vergelyking wees tussen leringe van Jesus en die leringe van mensgemaakte wette nie. Jesus het uit die hart met die outoriteit van God gepraat: “Hy wat My gestuur het, is geloofwaardig, en net wat Ek by Hom gehoor het, sê ek vir die wêreld” (Joh 8:26b).


Die skrifgeleerdes het oneindige debatte gevoer oor onbelangrike en niksbeduidende gewoontes en oorgelewerde tradisies (bv. hande was voor ete - Matt 15:1-9). Jesus se leringe aan die skare was gefokus op ewigheidswaardes in die koninkryk van God. Vir baie jare moes hulle in die sinagoges luister na die moets en moenies van mensgemaakte wette, terwyl hulle nou hier teen die berghang langs die See van Galilea, geluister het na ‘n beskeie, nederige, “ongeletterde” Man van Nasaret, wat met die outoriteit van God oor God se koninkryk praat. Die Bergpreek moet hulle nóú in hierdie deurmekaar wêreld gaan toepas. Daarom was hulle “verbaas oor Sy onderrig!”


“The more I read these three chapters of The Sermon on the Mount (Matt 5 to 7), the more I am drawn to them and shamed by them. Their brilliant light draws me like a moth to a spotlight; but the light is so bright that it sears and burns (D.A. Carson).


Gebed: Here, ons was sedert Januarie deel van hierdie skare wat U gevolg het. Ons het ons ook tuis gemaak aan U voete daar teen die berghang en na U geluister. Terwyl U oor die koninkryk van God gepraat het, het ons weereens ons tekortkominge besef want ons skiet ver tekort in U verwagtinge. Dankie Here dat U liefde en genade allesdeurdringend en allesomvattend is sodat ons met vrymoedigheid na U genadetroon kan gaan. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page