top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


DIE TWEE FONDAMENTE (8)


Die Hoorder wat nie Gehoorsaam is nie (3)


Matt 7:26-27 – “En elkeen dan wat hierdie woorde van My hoor en nie daarvolgens handel nie, kan vergelyk word met ‘n dwaas wat sy huis op sand gebou het. Die stortreën het geval, vloedwaters het afgekom, winde het teen daardie huis gewaai en daaraan geruk, en die huis het ingestort en is heeltemal verwoes.”


Vergelyk ook Matt 25:41 – “Dan sal die Koning vir dié aan Sy linkerkant sê: “Gaan weg van My af, julle vervloektes! Gaan na die ewige vuur wat vir die duiwel en sy engele voorberei is.”


Jesus vertel vervolgens wat die gevolge was van die huis wat op sand gebou is – “Die stortreën het geval, vloedwaters het afgekom, winde het teen daardie huis gewaai en daaraan geruk, en die huis het ingestort en is heeltemal verwoes.” Die dwaas is ongehoorsaam en gee maklik in tot versoekings, verwelk onder beproewings, “kan nie weerstand bied in die dag van onheil nie en kan nie die stryd tot die einde toe voer om staande op sy pos te bly nie” (Efes 6:13b). Hierdie aardse stryd eindig die dag van sy dood. Hy sal geweeg word en te lig bevind word. Dit is gewoonlik “dié wat hulle voor mense as goeie mense voordoen, maar God ken hul harte. Wat deur mense as belangrik beskou word, is ‘n gruwel voor God” (Luk 16:15). Dit is die bewys van die huis op sand sonder ‘n fondament – van buite mooi vir ander, maar die hart is ‘n gruwel vir God – en die gevolge daarvan is dat hierdie mens (“huis”) met die sand as fondament, op die dag van finale oordeel, “heeltemal verwoes” word.


Mense is geneig om nie te dink aan die dood nie. Sommiges huiwer selfs om daaroor te praat want dit is volgens hulle negatief en swartgallig. Die lewe is ‘n lied en word ook so geleef asof dit vir ewig gaan aanhou. Jesus waarsku egter ons hier wat die gevolge is van ongehoorsaamheid. Wat gaan gebeur wanneer Hy die koring van die kaf gaan skei en die skape van die bokke? Sommige mense is nie honderd persent seker of hulle hemel toe gaan wanneer hulle die dag gaan sterf nie! Hulle is huiwerig en wonder wat hulle gaan antwoord wanneer God hulle sou vra hoekom Hy hulle in Sy hemel moet toelaat?


Jesus het verskeie waarskuwings gerig om die hel te vermy. Hy vertel ons van die “wye poort en breë pad” wat na die verderf lei (7:13), net daarna waarsku Hy ons dat “elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi” – dit is beslis ‘n metafoor wat verwys om in die hel gewerp te word (7:19). Vervolgens verwys Jesus na die vals leraars en vals dissipels – “net hy wat die wil van My Vader doen, sal in die koninkryk van die hemel ingaan” (7:21). Dan volg Jesus se verdoemende woorde: “Ek het julle nooit geken nie, gaan weg van My af, julle wat die wet van God oortree” (7:23). Daarna beskryf Jesus die gevolge van die ongehoorsame bouer – “die huis is heeltemal verwoes” (7:27).


Ai, ons arme mense. Ons arme sondaars skiet so ver tekort, maar ons is nou eenmaal so gemaak en so gelaat staan! Nee! Inteendeel, God het ons gemaak en Hy maak nie foute nie. Hy het ons ook nie so laat staan nie! Ons is gou om te sê: “God praat hard met ons.” Dit is onwaar! God het laaste by Golgota hard gepraat toe Hy sy liefde aan die wêreld uitgebasuin het. God skep nie ISIS, Boko Haram of moedig misdaad aan nie. God het nie korrupsie uitgedink nie – die mens bring dit oor homself! Dankie tog, ons is uit genade gered! En met hierdie “waarheid” maak ons die hele Bergpreek ongedaan????? Nie so maklik nie!!!


Elkeen wat vasgryp aan Jesus in die geloof en bely dat Hy die Here is wat deur God uit die dood opgewek is, het ‘n veilige genade-roete na God toe – ‘n genaderit wat afgerond word met gehoorsaamheid, geloof en vertroue aan ‘n lewe vol goeie dankbaarheidswerke.


Gebed: Here, ons honger en dors na geregtigtigheid. Ons vertrou en gló in U Jesus Christus. Ons wíl ons kruis opneem en U volg. Ons wíl soos die verstandige man wees en ons huise op rots bou. Ons wéét wat die regte dinge is om te doen want U het ons geleer. Help ons om dit te dóén ook Here want ons is tot alles in staat deur U wat ons krag gee. Dankie God, dat U genade vir ons genoeg is om ons van die krag en nodige toewyding te voorsien om Jesus se woorde te doen. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page