top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


DIE TWEE FONDAMENTE (4)


Die Hoorder wat Gehoorsaam is (2)


Matt 7:24-25 – “Elkeen dan wat hierdie woorde van My hoor en daarvolgens handel, kan vergelyk word met ‘n verstandige man wat sy huis op rots gebou het. Die stortreën het geval, vloedwaters het afgekom, winde het teen daardie huis gewaai en daaraan geruk, en tog het dit nie ingestort nie, want die fondament was op rots.”


Vergelyk ook 1 Joh 5:3 – “Die liefde vir God bestaan dan daarin dat ons Sy gebooie gehoorsaam.”


Tweedens verduidelik Jesus hoekom die man verstandig is: “Hy bou sy huis op rots.” ‘n Kwaliteit en stewige fondament het beteken om deur die sandsteen van Palestina te grawe tot op die soliede rots. Dit sou meebring dat die huis wat op daardie fondament gebou is, storms, vloede of selfs aardbewings kon weerstaan.


Wat verteenwoordig die goeie fondament in hierdie gelykenis? Alhoewel dit na Jesus Christus self kan verwys: “Ek (God) gaan in Sion ‘n klip neersit, ‘n uitgesoekte klip, ‘n hoekklip wat fondament aan fondament sal sluit” (Jes 28:16), beklemtoon Jesus hier egter wat Hy gesê het: “hierdie woorde van My.” Dit verwys hier na Sy Bergpreek en met ‘n logiese gevolgtrekking na al Jesus se leringe in die Bybel. Hierdie “man wat sy huis op rots gebou het”, het nie net geglo wat Jesus gesê het en daaroor gepraat nie, hy het selfs “daarvolgens gehandel.”


Jesus se woorde moet as ons fondament dien – ons woorde, gedagtes, dade en lewe moet spreek daarvan! Dit sal ons hele lewensstyl verander. Sy woorde elimineer die idee dat Hy vir ons sonde aan die kruis kom sterf het en ons nou maar kan leef soos ons wil. Ons moet Sy woorde gehoorsaam en “daarvolgens handel.” Wanneer ons “daarvolgens handel,” sluit dit in om “te treur oor ons sondes, sagmoedig op te tree teenoor ons naaste, honger en dors na wat reg is, die vredemakers is en rein van hart wees” (Matt 5:3-11).


Dit is ‘n gehoorsaamheid wat sy oorsprong het in ‘n wedergebore hart – iemand wat “saam met Christus lewend gemaak is” (Efes 2:5b), iemand wat “deur God na Jesus toe getrek is” (Joh 6:44). Ons glo in Christus want ons wil, nie omdat ons gedwing word nie. Dan word 1 Joh 5:3 (hierbo), waar in ons lewe. “Sy gebooie is ook nie moeilik om te gehoorsaam nie, want enigeen wat ‘n kind van God is, kan die sondige wêreld oorwin. En die oorwinning is deur ons geloof, hy wat glo dat Jesus die Seun van God is” (1 Joh 5:3b-5). Hierdie gehoorsaamheid is opreg en dit verheug God – dit is gebou op die rots-fondament.


Gebed: Ons hemelse Vader, ons wil saam met die verstandige man ons huise op die rots-fondament bou. Saam met die psalmis wil ons uitroep: “Laat my wandel in U gebooie, want daarin vind ek vreugde” (Ps 119:35). “Weerhou ons van ‘n nuttelose lewe”, ‘n lewe wat maklik deur die storms uitmekaar geruk kan word. “Laat ons leef op die weg wat U aanwys” (Ps 119:37). Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page