top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


DIE TWEE FONDAMENTE (1)


Matt 7:24-25 – “Elkeen dan wat hierdie woorde van My hoor en daarvolgens handel, kan vergelyk word met ‘n verstandige man wat sy huis op rots gebou het. Die stortreën het geval, vloedwaters het afgekom, winde het teen daardie huis gewaai en daaraan geruk, en tog het dit nie ingestort nie, want die fondament was op rots.........”


Vergelyk ook Spreuke 10:25 – “As die stormwind kom, is die goddelose daarmee heen, maar die regverdige bly altyd staan.”


Jesus sluit Sy Bergpreek af met ‘n laaste oproep aan al Sy dissipels. “Elkeen dan wat hierdie woorde van My hoor en daarvolgens handel" is die logiese gevolgtrekking van Sy Bergpreek en dit versterk Sy woorde in die voorafgaande verse van “hoor en doen”. Jesus is so besorgd oor ons dat Hy seker wil maak dat Sy woorde nie net gehoor word nie maar dat dit toegepas word. Soos daar net twee verskillende ingange en weë is, is daar twee klasse Christene – die wat luister na die Woord en die wat luister en gehoorsaam – die wat hul huise op rots bou en die wat hul huise op sand bou. Sy woorde is so gesaghebbend dat dit vergelykbaar is met ‘n huis wat op rots gebou is.


Jesus doen ‘n beroep op ons om te “hoor en te handel.” Een van die grootste probleme van vandag is dat daar steeds mense is wat Sondag na Sondag hoor wat Jesus sê, maar nie daarop reageer nie. Jesus wil graag hê dat die mense na Hom moet luister.


Tweedens versoek Jesus ons om “daarvolgens te handel.” Kennis word eers relevant wanneer dit toegepas word in aksie. Dit help niks ons het al die kennis van die Bybel maar dit word nie toegepas nie. As ons dokter toe gaan met ‘n siekte sal ons nie gesond word indien ons nie sy voorgeskrewe behandeling volg nie.


Jesus verwag met ander woorde gehoorsaamheid. In hierdie kort gelykenis waarsku Jesus teen ‘n gevaar wat ons vandag nog in die kerk mee te doen kry – waarderende hoorders. Ons kom gedurig onder die geklank van die Woord en is ook nie onbeïndruk nie. Na ‘n “treffende boodskap dominee”, of ‘n “jou boodskap het vandag weer diep gesny dominee, dankie ons het dit weer nodig gehad”, draai ons om huis toe, drink ‘n koppie tee, braai ‘n vleisie, vee monde af en ............ leef maar weer voort soos altyd. Ons gewete is immers gesus tot volgende week se diens.


Dit is nie genoeg om net na elke preek “Here, Here” met ons monde te beaam nie, maar hierdie geloofswaarheid word nie in beweging gestel nie. Wie sy lewenshuis op Jesus se woorde bou en Sy opdragte uitvoer, sal staande bly, maak nie saak hoe sterk die storms daarteen beur nie “want die fondament is op rots.”


Gebed: Here, help ons met ons keuses want kies ons verkeerd en is ons dalk kortsigtig, gaan niks reg verloop nie. Help ons om U waardes wat die Gees in ons bewerk, daagliks in ons optrede uit te lewe. Liewe Heer, behoed ons om net waarderende hoorders te wees en eerder ons geloofswaarhede op die rots-fondament te plaas want dan weet ons dat die storms van die lewe, nie ons lewensboot sal laat kantel nie. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page