top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


VALS PROFETE (1)


Matt 7:15-20 – “Pas op vir die vals profete. Hulle kom na julle toe in skaapsklere, maar in werklikheid is hulle verskeurende wolwe.......”


Vergelyk ook 2 Kor 11:13-15 – “Sulke mense is vals apostels; hulle gaan oneerlik te werk deur voor te gee dat hulle apostels van Jesus Christus is. En geen wonder nie! Satan self doen hom voor as ‘n engel van die lig. Daarom is dit nie snaaks dat sy dienaars hulle voordoen as mense wat die wil van God doen nie.”


“Vals profete” is afgelei van die Griekse woord “pseudo-propheton” – m.a.w. iets wat oneg, bedrieglik of vals is en daar word verskeie voorbeelde in die Bybel daarna verwys: “Vals broers (2 Kor 11:26; onder vals voorwendsels as mede gelowiges voordoen (Gal 2:4); vals apostels (2 Kor 11:13); vals profete (2 Pet 2:1); vals getuienisse (Matt 26:60); vals getuienis teen God dat Hy Christus opgewek het (1 Kor 15:15); vals christusse wat selfs uitverkorenes verlei (Matt 24:24), Jesus waarsku ons teen hulle (Mark 13:23); dan miskien die mees uitstaande voorbeeld: “Die Gees sê uitdruklik dat in die eindtyd sommige afvallig sal word van die geloof. Hulle sal misleidende geeste navolg en die leerstellings van duiwels aanhang. Hierdie dwaalleraars is skynheilige leuenaars wie se gewete toegeskroei is. Hulle verbied mense om te trou en om bepaalde soorte kos te eet” (1 Tim 4:1-3).


Jesus, ons Goeie Herder, waarsku ons vervolgens teen vals profete, die wolwe in skaapsklere wat ons, Jesus se skape, kan verskeur. Profete was mense wat namens iemand praat. In die Bybel was dit mense wat deur God geroep is om namens Hom te praat. Omdat dit ménse is wat hierdie taak verrig het en vandag nog verrig, is dit moontlik dat satan, die meester in die kuns van verleiding en vader van die leuen, hierdie “sogenaamde profete” juis gebruik om mense weg van die "nou poort en smal pad” na die “wye poort en breë pad,” met vals leerstellings, te verwar.


God kies self wie Hy as profeet wil stuur om namens Hom te praat en wat om te sê: “Toe sê die Here vir my: ‘Jy moet gaan na wie toe Ek jou stuur, en alles wat Ek jou beveel om te sê, moet jy sê.....” (Jer 1:7); “Toe sê die Here vir my: ‘Mens gaan na die mense van Israel toe en sê vir hulle wat Ek sê....” (Eseg 3:4). Dit is nie iemand wat homself aangestel het of deur ‘n groep mense of familie aangestel word nie.


Vals profete bestaan al van Jesus se aardse tyd af en dit is ons Christene se verantwoordelikheid om hulle te identifiseer en te vermy. Hoe word hulle geïdentifiseer? Deur “elkeen te ondersoek” na aanleiding van die Skrif. Petrus en Johannes waarsku ons teen vals profete: “So sal daar onder julle vals leraars kom. Hulle sal verderflike dwaalleer insmokkel en die Here wat hulle vrygekoop het verloën. Baie mense sal hul losbandigheid navolg, en deur hulle toedoen sal mense kwaad praat van die Weg van die waarheid. (Jesus sê self Hy is die enigste Weg en die waarheid.) In hulle hebsug sal hulle julle met allerhande stories uitbuit. Maar hulle vonnis is lankal gevel, en hulle ondergang is onafwendbaar” (2 Pet 2:1-3).


Johannes se waarskuwing is soortgelyk: “Geliefdes, moenie enigeen glo wat sê dat hy die Gees van God het nie, want daar is nou reeds baie vals profete in die wêreld, maar ondersoek elkeen” (1 Joh 4:1). Johannes gaan voort deur vir ons die beslissende eienskap van ‘n ware profeet te beklemtoon: “Hiéraan ken julle die Gees van God: elkeen wat bely dat Jesus werklik die Christus is wat mens geword het, het die Gees wat van God afkomstig is” (1 Joh 4:2).


‘n Vals profeet of leraar is iemand wat hulleself as mense van die lig voordoen en met die mooiste woorde vir mense ‘n maklike, aanvaarbare godsdiens aanbied en selfs pragtige godsdienstige praktyke skep. Paulus ontmasker diesulkes in sy tweede brief aan die Korintiërs (2 Kor 11:13-15 in ons vergelyking hierbo).


Gebed: Ons Here van die waarheid, bewaar ons van alles wat vals is. Help ons om die magdom skatte in U skatkamers te ontdek. Dankie dat Johannes vir ons bevestig Wie die ware Gees is en dat ons dit kan bely en standvastig daarin kan bly: “Hiéraan ken julle die Gees van God: elkeen wat bely dat Jesus werklik die Christus is wat mens geword het, het die Gees wat van God afkomstig is” (1 Joh 4:2). Here, verlig ons verstand, ons begrip en ons hart om aan hierdie waarheid vas te hou. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page