top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


TWEE PAAIE (5)


Matt 7:13-14 – “Gaan deur die nou poort in. Die poort wat na die verderf lei, is wyd en die pad daarheen breed, en dié wat daardeur ingaan, is baie. Maar die poort wat na die lewe lei, is nou en die pad daarheen smal, en dié wat dit kry, is min.”


Vergelyk ook Luk 13:24 – “Here, is dié wat gered word maar min?” Jesus antwoord: “Span al julle kragte in om by die smal deur in te gaan. Baie, verseker Ek julle, sal probeer om in te gaan maar sal dit nie regkry nie”


Daar is diegene wat glo dat die mens se “nou poort” aan die einde van hul lewe kom en ook net indien hulle die “smal pad” geloop het. Dit is dán die poort na die hemel toe die dag van afsterwe. Jesus se uitspraak is teenstrydig met hierdie lering - “Gaan deur die nou poort in..... die poort wat na die lewe lei, is nou en die pad daarheen smal, en dié wat dit kry, is min.” Die “nou poort” is dus die begin wat na die “smal pad” lei. Indien ons nie kans het om op hierdie "smal pad" te loop nie, sal ons nie kans kry om ‘n gelowige in Jesus Christus te wees nie en dan dalk gedink het dat goeie werke, sonder geloof in Jesus Christus, ons toegelaat het deur die “nou poort.”


Hierdie “nou poort en smal pad” is nie die mees populêre plek om te wees nie. Die keuse tussen dít of die “wye poort en breë pad” is elkeen se keuse, hang af waarheen jy wil gaan. Die laaste keuse is die maklike keuse want dit is die maklike pad. Dit neem geen inspanning om daarop te wees nie. Daar is geen bulte, nou stegies of enige versperrings wat ‘n mens moedeloos maak nie. Dit is die pad van die filosofiese ”kom, eet en drink en wees vrolik, môre is ons dood.” Daar is geen etiese absolute of norms op daardie pad nie, die pad van “brandewyn het nie brieke nie.” Elkeen doen wat reg is in sy eie oë. Dit is die pad waar mens se “hart slegte gedagtes voortbring: moord, owerspel, onkuisheid, diefstal, valse getuienis, kwaadpratery” (Matt15:19).


Hierdie “breë pad” is waar ‘n mens sy eie god kan wees. Dit is die weg waar mens “Neus in die lug sê: ‘God vra tog geen rekenskap nie.’ In al sy planne is daar nie plek vir God nie. Dit gaan mos altyd goed met alles wat hy aanpak” (Ps 10:4-5). Dit is die pad waar “baie” hul bevind, sê Jesus. “Baie” is so gemaklik daarmee. Die pad van “almal doen dit tog.”


Hierdie “breë pad” is ‘n maklike pad want dit het net afdraandes. Afdraandes tot binne die hel want Jesus is nêrens op daardie pad te vinde nie! Dit is ‘n doodloop straat. Daarom gee Jesus feitlik ‘n opdrag aan ons dat ons die regte keuse moet maak watter ingang om te neem om op die regte pad te kan wees. Dit is God se genadepad wat deur ons erken moet word en beantwoord moet word. As mens op ‘n vliegtuig klim weet jy immers waarheen jy op pad is. Net so is dissipelskap van Jesus Christus en geloof in Hom, die kennis waarnatoe jy op pad is.


Gebed: Dankie Here vir ‘n keuse van dissipelskap vir U. Help ons om met oorgawe te kies want Here, om net saam met U te loop en te eet is nog nie om U te kies nie. Ons is so geneig om ons harte en lewens te vul met vlak, stoflike wêreldsdinge in ons soektog na geluk en gemak. Ons wil só graag aanvaar en waardeer word deur die “mense” dat ons vergeet dat dit gevind kan word in U genade. Ons liefde vir die wêreld is op voorwaarde dat dit wederliefde moet wees terwyl U liefde onvoorwaardelik is. Dankie Here dat U ‘n Here is ten spyte van.... Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page