top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag.


DIE GOUE REËL (2)


Matt 7:12 – “Alles wat julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook aan hulle doen. Dit is tog waarop dit neerkom in die wet en die profete.”


Vergelyk ook Ef 5:1-2 – “Omdat julle kinders van God is en Hy julle liefhet, moet julle Sy voorbeeld volg. Lewe in liefde, soos Christus ons ook liefgehad en om ons ontwil Sy lewe as ‘n offergawe gegee het.”


Ons het gister gesien dat hierdie “Goue Reël” van Jesus nie uit konteks gebruik kan word nie. Dit kan nie ‘n los gesegde wees wat ons kan gebruik wanneer ons dit nodig het nie. Dit geld vir álle tye in álle omstandighede, of glad nie. Jesus koppel hierdie grondbeginsel aan al Sy vorige uitsprake of opdragte, met ander woorde, as jy daarvan hou om sagmoedig behandel te word, behandel ander sagmoedig; As jy daarvan hou dat ander in vrede met jou moet leef, leef in vrede met ander; As jy daarvan hou dat ander jou met respek behandel, behandel ander met respek; Ons Vader oordeel niemand vals nie, daarom moet ons ook nie ander vals oordeel nie; Ons Vader laat dit reën oor die goeies en die slegtes, daarom moet ons selfs ons vyande ook liefhê, en so kan ons aangaan om aan te haal vanaf Matteus 5 vers 3 en by implikasie, aan al die opdragte in die Skrif.


Wat maak Jesus se uitspraak van hierdie “goue reël” dan so spesiaal? Jesus beklemtoon dat Sy dissipels (ons) aan ander moet góéd doen en nie noodwendig moet verwag dat hulle dan weer iets goeds aan ons terugdoen nie. Dit beteken om betrokke te wees en te raak by almal rondom ons. Is ek diensbaar met die motief om as dissipel te dien of om iets daaruit te kry?


Skielik tref hierdie “goue reël” van Jesus ons miskien as iets wat onmoontlik is om te doen en te leef. Reg aan die begin van ons dagstukkies oor Jesus se Bergpreek het ons vir mekaar gesê dat dit feitlik onmoontlik is om op eie krag hierdie preek van Jesus toe te pas. En nou kom Jesus met hierdie “goue reël” en maak dit nog moeiliker. Met respek, dit is ‘n onbereikbare ideaal! Of is dit bereikbaar?


Daarom voeg Jesus “Dit is tog waarop dit neerkom in die wet en die profete” by Sy “goue reël.” Jesus het reeds die wet en profete kom vervul. Wat Jesus dus vra is dat ons hierdie “goue reël” moet volg in geloof. Só wil God hê dat ons as mense van Sy koninkryk moet lewe – in liefde met Hom en met mekaar. Die “goue reël” kan ons leefwyse word indien ons die Heilige Gees toelaat om dit in ons lewens te bewerkstellig. Dan kan ons minder word en God meer. Die Gees maak ons nuut en leer ons om standvastig te bly om op Sy pad te stap en nie ons eie pad nie. Dít is hoe ‘n Christen lyk!


“To obey this commandment a man must become a new man with a new centre to his life; and if the world was composed of people who sought to obey this rule, it would be a new world “ (William Barclay).


Gebed: Jesus, ons wil nie net toeskouers wees hier aan U voete op die berghang langs die See van Galilea nie. Ons wil toegewyde dissipels wees in ons Vader se koninkryk. Alleen kan ons dit egter nie doen nie, daarom het ons U, o Gees nodig om dit in ons lewens te bewerkstellig. Dankie Gees van God dat U ons geloof bevestig in Jesus Christus, ons Here. Help ons om te leef met U “goue reël” van “As ons.... doen dan.....” Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page