top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


DIE GOUE REËL (1)


Matt 7:12 – “Alles wat julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook aan hulle doen. Dit is tog waarop dit neerkom in die wet en die profete.”


Vergelyk ook Lev 19:18 – “Jy mag nie wraak neem of ‘n grief koester teenoor jou volksgenoot nie, jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Ek is die Here.”


As daar vervolgens gevra word hoe ons ons naaste moet dien, word dit met hierdie spreuk wat Jesus heel aan die einde van Sy Bergpreek uiter, vervul. Daarom staan dit dan ook bekend as “Die Goue Reël.” Met hierdie spreuk bereik Jesus se Bergpreek die hoogtepunt, die Everest van alle etiese lering. Dit is asof Jesus wil sê: “Voortvloeiend uit al die voorafgaande uitsprake wat Ek julle nou hier op die berg geleer het, het julle as My dissipels nie ‘n ander keuse as om dié liefde op presies hiérdie wyse in die koninkryk van God tot uitdrukking te laat kom nie.”


Dit is seker die mees gesproke gesegde wat wêreldwyd gebruik is en steeds gebruik word. Alhoewel hierdie uitspraak uit die mond van Jesus kom en in die Bybel aangeteken is, word dit nie net deur Christene gebruik nie maar selfs deur ongelowiges. Kortliks word dit aangehaal as “doen aan ander wat jy wil hê hulle aan jou moet doen” of selfs op ‘n negatiewe vorm gebruik word – “Moenie aan ander doen wat jy nie wil hê hulle aan jou moet doen nie.” Dit kan egter maklik misverstaan word. Dit lyk asof hierdie “goue reël” die mens in die norm plaas om aan ander te doen wat vir jou lekker is. Die norm is soos wat Jesus dit uitspreek en nie wat vir ons goed lyk nie maar wat God van ons vereis.


Die feit is dat die meeste mense geneig is om hierdie reël óf verkeerd aan te haal óf net gedeeltelik aan te haal, óf dit in ‘n gees van gesindheid, anders gebruik as wat Jesus bedoel het. Trouens, as die volle reikwydte van hierdie uitspraak van Jesus reg verstaan word, is dit nie sommer ‘n gemaklike ou reëltjie wat sommer so maklik in sekere omstandighede op die tong geneem kan word nie. Jesus is hier besig om die opsomming van die wet wat Hy later sou meedeel, vooruit te loop – “liefde vir God en vir jou naaste, soos jouself”. Jesus laai hierdie bekende spreuk met aksie – gaan doen wat vir God aanneemlik is!


Ons is dit aan mekaar verskuldig. Dit is nou dóéntyd. “Die toets vir dissipelskap lê nie in mooi woorde, vroom belydenisse en grootse toewyding nie, maar in elkedagse doen van die regte dinge” (Ds. Johan Smit). En as ons dit nie kan regkry nie, dan vra ons ons Vader in die hemel om te help: “Vra, en vir julle sal gegee word” (Matt 7:7).


Gebed: Here, weerhou ons van haastige woorde, onsensitiewe aanmerkings, indringerige vrae, dinge wat ander seer maak. Gee ons ‘n fyn aanvoeling sodat ons in elke omstandigheid sal kan onderskei wat die regte ding is om te sê en te doen. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page