top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


GEBEDSVERHORING (3)


Matt 7:7-12 – “Vra, en vir julle sal gegee word; .... (V 11b) – hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemel is, goeie gawes gee aan dié wat dit van Hom vra?”


Vergelyk ook Ps 37:5 – “Laat jou lewe aan die Here oor en vertrou op Hom; Hy sal sorg.”


Een van die voordele van ‘n lewe met God is dat Hy ‘n vrygewige Vader is. Hy sal goeie dinge gee aan “elkeen” wat dit ernstig bedoel met God en Sy koninkryk!” God het tot die uiterste toe gegaan om ons Sy kinders te maak en omdat ons Sy kinders is het Hy vir ons Sy Gees gegee om uit te roep: “Ons Vader.......”


Tog is daar diegene wat reken dat gebed onvanpas is. Diegene wat vergelykings tref deur na ander mense te kyk - die "hulle" van die wêreld - en dan tot die gevolgtrekking kom dat "hulle" nooit in ‘n kerk kom maar alles het wat mens nodig het. "Hulle" sien relatief goed daaruit want "hulle" werk vir wat "hulle" het. Dit is verdien deur hard te werk en nie hard te bid nie. "Hulle"besit baie en "hul" begroting klop deur "hul" goeie beplanning en dan kry "hulle" elke jaar nog belasting ook terug. "Hul" daaglikse brood word verskaf deur die bakkery. Niks is verkry deur gebed nie. Ensovoorts, ensovoorts, ensovoorts.


Daar is baie mense wat reken dat hulle al hoeveel keer gevra het, duisend keer geklop het, só baie al gesoek het, maar nooit ontvang het nie. Só baie mense het al gesê dat hulle gebid het dat hul genees word van ‘n terminale siekte, maar dit het net vererger, gebid het vir vrede maar die onrus en oorlogsrumoer dreun voort, gebid het om ‘n eksamen deur te kom maar nogtans gedruip het, onskuldige kinders sterf, huwelike loop op die rotse en, en, en........ Hoe verstaan mens dit? Die gevolgtrekking : “Nee wat, gebed werk nie, dit is onproduktief.”


Gebedsvertroue beteken om totaal afhanklik te wees van ons hemelse Vader, om “jou lewe aan die Here oor te laat en te vertrou op Hom; Hy sal sorg.” Gebed is beslis nie ‘n towerstaffie nie. Om elke keer wanneer ons iets nodig het oor ons “gebedslampies” te vryf, gaan nie noodwendig iets voortbring nie. Jesus sê uitdruklik hier ons hemelse Vader gee “goeie gawes aan dié wat dit van Hom vra.” Laat ons dan God dank dat Hy ons gebede volmaak verhoor en nie soos wat ons dit wil hê nie. Die Here skenk die gawes aan ons wat met Sý wil ooreenstem, daarom moet ons agterkom wat Sy wil is. Sý wil word vir ons uitgespel in Sy Woord en om dit in geloof te aanvaar, is gereelde en getroue Bybelstudie nodig.


Om te volhard in gebed is dan die manier wat die Here wil hê om stelling in te neem voor die heel belangrikste deur in ons lewe en te weet: As ons hier gaan klop in Jesus se Naam, gaan ons Vader oopmaak. Hy is altyd tuis en sal op die regte oomblik en op Sy tyd en Sy manier, op ons klop reageer.


Gebed: Ons hemelse Vader, dankie dat ons kan waag om U Vader te mag noem, want dit is ‘n duur Naam. Dankie Jesus dat dit deur U onbeskryflike offer was dat ons God so mag noem. Dankie Vader dat ons met U mag praat. Dankie dat ons kan vra, kan klop, kan soek en U luister. Dankie dat ons ons harte in U troonkamer kan oopmaak en te weet U hoor. Dankie Heilige Gees dat U die vertroue in ons opwek sodat ons gelowig kan bly bid. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page