top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


GEBEDSVERHORING (1)


Matt 7:7-12 – “Vra, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal kry; klop en vir julle sal oopgemaak word, want elkeen wat vra, ontvang; en elkeen wat soek, kry; en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word........”


Vergelyk ook Jak 4:3 – “As julle bid, ontvang julle nie, omdat julle verkeerd bid: julle wil net julle selfsugtige begeertes bevredig.”


Sommige Bybelverklaarders meen dat hierdie paar verse ‘n voortsetting of afronding van Jesus se voorskrifte oor gebed is wat Hy reeds in Matt 6 vanaf vers 5 tot 13, voorgehou het. Ander meen dat hierdie paar verse direk verband hou met die voorafgaande gedeeltes. Hoe dit ookal sy, Jesus preek twee maal oor gebed tydens Sy Bergrede en dit is veelseggend. Hy beklemtoon dat ‘n dissipel van Hom ‘n volhardende gebedslewe moet handhaaf. Hierdie onontbeerlike kommunikasie met God is ‘n erkenning van ons afhanklikheid van God.


Met hierdie paar verse moet ons baie versigtig wees. Dit is amper soos die “fyndruk” op ‘n kontrak wat mens eers later ontnugter wanneer jy uitvind dat daar nie volkome aan jou verwagtinge voldoen is nie. Dit blyk dat Jesus hier ‘n blanko tjek gee aan elkeen wat een of ander begeerte het want “elkeen wat vra, ontvang; elkeen wat soek, kry; en elkeen wat klop, sal oopgemaak word” (V 8). Dit kan só maklik buite konteks beskou word dat “elkeen” net gou-gou sy versoeklysie kan “inbel” na God toe en dan wag vir spoedige aflewering. Mense reageer entoesiasties hierop maar word dikwels teleurgestel in hul verwagtinge en dan begin hul twyfel. Dan wonder hulle of hul geloof dan nie sterk genoeg is nie, of nog erger, God kom nie Sy beloftes na nie!


Hierdie uitnodiging van Jesus is nie onvoorwaardelik nie. Dit is gerig aan “elkeen” wat in teenstelling met die skynheiliges, nie die “gebed misbruik om hulself ‘op te hemel nie’ of hulself nie “mismaak sodat ander kan sien hulle vas” (Matt 6:5-18). Dit is gerig aan “elkeen” wat “skatte bymekaar maak in die hemel” (Matt 6:19-21), “elkeen” wie se “oog goed is” (Matt 6:22) wat na Jesus opkyk en wat aardse besittings anders sien en daarom “nie Mammon dien nie” (Matt 6:24). Dit is gerig aan “elkeen” wat hul “nie bekommer oor wat hul eet of aantrek nie” (Matt 6:25), “elkeen” wat anders optree ten opsigte van die “ander wang draai, bokleed ook gee, tweede kilometer stap, vyande liefhet en vir hulle bid, armes help sonder om dit uit te basuin” (Matt 5:38-6:4).


Hierdie uitnodiging van Jesus is gerig aan “elkeen” wat “sout en lig vir hierdie wêreld is” (Matt 5:13-16), “elkeen” wie se “getrouheid aan die wet meer inhou as dié van die skrifgeleerdes en Fariseërs” (Matt 5:20). “Elkeen” wie hulle “allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, beywer” Matt 6:33). Dit is vir “elkeen” wat dit ernstig bedoel met God en Sy koninkryk!


Gebed: Here, dankie dat ons nie vir aardse gemak en plesier by die hemel kan aanklop nie. Dankie dat U vir “elkeen” wat U nie net ken nie, maar ook ‘n verhouding met U het, uitnooi om te vra, te klop en te soek, en ons weet U luister nie net nie, U gee ook volgens U wil. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page