top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


MOENIE OORDEEL NIE (2)

Matt 7:1-6 – Moenie oordeel nie, sodat oor julle nie geoordeel word nie; met dieselfde oordeel waarmee julle oor ander oordeel, sal oor julle geoordeel word......”


Vergelyk ook Joh 8:3-11 – “Meneer, hierdie vrou is op heter daad betrap waar sy owerspel gepleeg het..... Laat die een van julle wat ‘n skoon gewete het, eerste ‘n klip op haar gooi...... Gaan maar en moet van nou af nie meer sonde doen nie.” (V 4; 7b; 11)


Jesus noem mense wat ander wil aanspreek oor hul tekortkominge terwyl hulself ernstiger gebreke het, “huigelaars” (v 5). ‘n Sterk woord uit die mond van Jesus vir die skynheiliges wat ‘n gebrek aan insig het oor hul eie foute. Al benader hulle ander met baie goeie bedoelings, kan hulle nie vir ander tot hulp wees nie. Hulle diskwalifiseer eenvoudig hulself. Paulus het dit ook begryp daarom erken hy dat hy nie ander tot die stryd sal oproep as hy self nie kwalifiseer nie (1 Kor 9:27). Wanneer die balk egter uit jou eie oog is, kyk jy nie uit die hoogte na ‘n ander se foute nie maar dan is dit sondaar teenoor mede sondaar wie beide genade ontvang van dieselfde God wat albei geskep het!


Om ‘n oordeel oor ‘n ander te fel is seker die mees gebruikte vorm waar wraakgedagtes uitgespreek word en waaraan die meeste mense skuld aan het. “Ek wil nou nie oordeel nie, maar het jy gesien.....” of “Moet nou nie dink ek kritiseer haar nie, maar het jy gehoor....” is seker van die bekendste uitdrukkings wat daagliks gehoor word. Dit verskaf sommiges innerlike vreugde om slegte dinge van ander te hoor. Dissipels daarenteen, is volgelinge van Jesus in God se koninkryk. Wanneer ons as regters wil optree, mis ons die doel van dissipelskap. Ons moet onthou dat ons ook begenadigde sondaars is! “Laat die een van julle wat ‘n skoon gewete het, eerste ‘n klip op haar gooi......”


Beteken dit nou ons moet onsself blind hou vir ander se foute? Nee. Jesus verwag nie dat ons sienderoë ‘n ander se foute moet toelaat nie maar Hy verbied ons om ‘n mede sondaar te straf. Dit is presies wat die Fariseërs gedoen het. Hulle het mense vertrap en vernietig met hul verkeerde vertolking van die wet. Ons is nie aangestel om ons Koning se regters te wees nie. Wanneer ons deur die oë van ons Koning kyk, kan ons ons eie én ander se sonde in perspektief raaksien en dan teen ons naaste optree soos wat ons graag wil hê hulle moet optree teenoor ons.


Gebed: Here, ons staan skuldig voor U. Ons tree soms ongenaakbaar op teenoor ons naaste en dan vergeet ons gerieflikheidshalwe dat die balk in ons oë die stoffies in ‘n ander se oog bedek. Here, hoe kan ons verwag dat U ons sonde nie moet beoordeel nie terwyl ons reeds ons mede sondaar gestenig het? Here, maak ons oë oop vir liefde en aanvaarding. Help ons om die balk van veroordeling in ons eie oë raak te sien en nie altyd daarop uit is om iemand anders se lewe “reg te wil timmer” nie. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page