top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag.


Heb. 13:5-6 – “God self het gesê: ‘Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie.’ Daarom kan ons met vertroue sê: ‘Die Here is my helper, ek ken geen vrees nie: wat kan ‘n mens aan my doen?”

GEBED VAN ‘N WERKLOSE

O Here, ek het my werk verloor, en ek is so bang. Ek worstel met emosies van woede en veronregting oor die redes waarom ek afgedank is.

Ek voel verneder en waardeloos en sonder selfvertroue. Ek is vreesbevange oor wat die toekoms nou vir my inhou.

My gesin is afhanklik van my inkomste. Dit voel of ek hulle in die steek gelaat het. Ek voel soms te skaam om vir hulle te kyk!

Here, U weet hoe skaars werk is. Ek het al honderde CV’s uitgestuur, maar tevergeefs. Dit word nie eers beantwoord nie. En nou is ek ook een van die derduisende werkloses in ons land.

Here, ek is moedeloos, wáár gaan ek weer ‘n werk kry?

Vader, ek is skaam dat ek so kleingelowig is. Leer my tog weer om U te vertrou.

Ek sukkel, Vader, want my geloof is nog nooit tevore só getoets nie.

Versterk my, Here! Help my om U te bly vertrou vir uitkoms. Weerhou my tog daarvan om my woede en magteloosheid uit te haal op my lewensmaat. Hy/sy is immmers ook angstig oor wat gaan van ons word.

Weerhou my daarvan om uit selfbejammering my van ander mense te isoleer.

Ag, Here, herinner my daaraan dat my waarde as mens van Ú af kom, nie van my werk nie.

Versterk tog my geloof en gee my U vrede. Sorg vir my toekoms, Vader.

Weerhou my van bitterheid oor ‘n onbevoegde en korrupte regering wat ons in hierdie chaos ingedompel het.

Hou my vas, troos my, seën my.

Bemoedig my afhanklikes, familie en vriende wat ook oor ons bekommerd is.

Sien ons vrese en pyn en onsekerheid in genade aan.

Hou ons almal styf vas in U allesomvattende en allesdeurdringende liefdevolle arms.

Lei ons na ‘n bestemming met nuwe geleenthede volgens U wil, want ons vertrou op u Here,

ons tye is in U hand.

Amen.

(Gebed van Ruthanne Wangerin aangepas)

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page