top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


DIE SORGE VAN DIE LEWE


Matt 6:25-34 – “Daarom sê Ek vir julle: Moet julle nie bekommer oor julle lewe, oor wat julle moet eet of drink nie, of oor julle liggaam, oor wat julle moet aantrek nie........”


Vergelyk ook Fil 4:6-7 – “Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.”


Gesprekke deesdae gaan meestal oor die toekoms wat maar donker lyk en dan volg ‘n hele relaas oor die sogenaamde “feite” daaroor. Elkeen se storie is meer verdoemend as die ander. Daar is volgens hierdie “kenners” nie meer ‘n toekoms in Suid Afrika nie. Wanneer ons as gelowiges probeer om positief te verwys na Jesus se versoek om nie bekommerd te wees nie, word jy vinnig stil gemaak en word daar spottender daaraan herinner dat Jesus eenvoudige blommetjies en voëltjies wil vergelyk met mense se sukkelbestaan. Hy verstaan nie hoe die wêreld nóú daar uitsien nie. Soms word daar darem bygevoeg – “met respek gesê.”


Baie mense besef nie dat ons tans dieselfde toekoms beleef waaroor ons tien of selfs twintig jaar gelede, oor bekommerd was nie. Boonop het ons dit oorlewe en maak ons dit daagliks nog steeds op die een of ander manier. Verstommend né!


Nee, dit is nie verstommend nie. Dit is genade. Dit is alles aan God te danke. Hy is getrou. Hy sorg nog elke dag en voorsien ons van genadebrood. Ja, daar is miskien nie elke dag botter op die brood nie maar God het immers gesorg dat ons vandag gehaal het. Hy het gesorg dat ek vir vandag iets het om aan te trek, ‘n kombers vir die koue het en ietsie vir die maag. Wanneer ons God volkome vertrou kan ons vry word van lewensangs, stres en bekommernisse. Kommer wat die brein moeg maak, tas die liggaam ook aan. Dit affekteer mens se oordeel, besluitneming en maak jou allerhande onwaarhede bekend. Dit is om ‘n mosie van wantroue teen ons Hemelse Vader te stel! Dit is al waaroor jy later kan dink – jou bekommernisse en sorge. Dit is presies satan se doelwit – om ons te laat twyfel in God se voorsiening. Dit beteken nie nou om agteroor te gaan sit en wag dat God gaan voorsien nie. Die feit dat ons nie moet bekommer nie stel ons steeds ‘n verantwoordelikheid om voorsorg te tref.


“Dat God voorsien, beteken dat daar ‘n kreatiewe en reddende oplossing in elke situasie moontlik is. God se voorsiening beteken dat die bose magte wat ons wil oorweldig nie ‘n permanente greep op ons kan behou nie en die band waarmee Sy liefde aan ons bind, nie verbreek kan word nie” (Paul Tillich).


Gebed: Hemel Vader, ons bely elke dag dat ons ‘n hemelse Vader het maar dan raak ons kleingelowig en leef ons soos weeskinders. Ons geloof is dan eintlik niks meer as net ‘n belydenis nie. Ons bekommer ons siek oor die toekoms maar dit is omdat ons soos kleingelowiges dink dat U rustig slaap terwyl ons lewensbootjies sink. Dankie Here dat dit onnodig is om bekommerd te wees want ons ken mos die Man wat op water kan loop. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page