July 3, 2020

July 2, 2020

July 1, 2020

June 30, 2020

June 29, 2020

June 26, 2020

June 25, 2020

June 23, 2020

June 23, 2020

June 22, 2020

Please reload

Recent Posts

E-Kerk - Gedagte vir Vandag

June 6, 2016

DIE SORGE VAN DIE LEWE

 

Matt 6:25-34 – “Daarom sê Ek vir julle: Moet julle nie bekommer oor julle lewe, oor wat julle moet eet of drink nie, of oor julle liggaam, oor wat julle moet aantrek nie........”

 

Vergelyk ook Rom 5:3 – “Ons verheug ons ook in die swaarkry, want ons weet swaarkry kweek volharding.”

 

Met respek, Jesus veralgemeen seker nie met hierdie versoek dat ons nie bekommerd of besorgd moet wees nie.  Die waarheid is dat almal arm gaan wees indien ‘n mens nie kommer het oor jou daaglikse behoeftes nie en dan uiteindelik bedelaars word.  Weet Jesus wat werklike armoede beteken?  As ons die huidige moeilike ekonomiese omstandighede in oënskou neem, kan ons nie anders as om bekommerd te wees nie.  Daar is mense wat nie weet waar hulle volgende stukkie kos vandaan gaan kom nie.  Klere is nog erger – ons het nie eers geld vir kos nie.  Dit is ontsettend duur en mens kan mos nie naak rondloop nie.  Afleggings is aan die orde van die dag.  Gegradueerders sit by die huis, hulle toekomsdrome is aan flarde.  Die werkloosheidsyfer in S.A. is onlangs bevestig op 5,7 miljoen mense wat werk soek en nie kry nie en nou staar rommelstatus ons land ook nog in sig – en Jesus sê moenie bekommerd wees nie...... ?  Moet ons gevoelloos oor die lewe kyk?

 

Dit is veelseggend dat Jesus hierdie tien verse met “daarom” begin.  Hy sluit aan by Sy vorige uitsprake waarin Hy waarsku om nie aan aardse dinge verknog te raak en mammon te dien nie. Jesus verwys nêrens dat ons nie moet werk om kos en klere te verdien nie of om vir jou lewensonderhoud, van genade alleen, afhanklik te wees nie.  Jesus wys kommer af, nie voorsorg nie!  Jesus erken juis die mens se kommer as ‘n lewensnoodsaaklikheid, daarom wil Hy raad gee.  Hy wil God se versorgende liefde oordra.  God wat steeds omgee ten spyte van elke dag se kommer.  Die God wat tot dusver voorsien het en nooit die werke van Sy hande laat vaar nie.  God het te groot prys betaal om nou Sy versorging te staak.  Hy bly steeds in beheer.  Dít is waaroor dit gaan.

 

Martin Luther het die volgende gesê: “Ons kan niks doen aan die voëls van kommer en sorg wat oor ons koppe vlieg nie maar ons kan keer dat hulle nie in ons hare kom nes maak nie.”  Iemand anders het genoem dat sy soveel kommer met haar saamdra dat sy dit begin neerskryf het.  Dit het te veel geword om te onthou.  Elke dag se “kommer-notas” is dan in haar “kommerlaaitjie” gebêre en Sondag voor kerk het sy dit uitgehaal om daaroor te gaan bid.  Elke keer wanneer sy die week se bekommernisse oorgelees het, het sy begin besef nog nie één van daardie bekommernisse het gerealiseer nie.  Sy was dus verniet bekommerd!

 

              Remember, the biggest troubles you have got to face are those that never come”                                                                                (William Barclay).

 

Gebed: God van ons lewe, die laste van die lewe wat ons dra, skaaf ons skouers stukkend.  Die pad wat ons elke dag loop lyk maar vaal en eindeloos.  Die lewe is vir sommige mense nie meer ‘n lied nie.  U weet hoeveel mense moed verloor het en wie se hoop elke dag taan want alle pogings om ‘n werk te kry, is vrugteloos.  Dankie dat ons ons bekommernis by U kan laat na elke dag se swoeg, U gaan buitendien nie slaap nie.  Ons weet U sal ons red van die skadu’s om en binne ons.  Amen.

 

Please reload

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

H/v Eerstestraat & Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: [email protected]

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:30 - 17:30

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:30 - 17:30

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.