top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


GOD EN MAMMON


Matt 6:24 – “Niemand kan vir twee base tegelyk werk nie. Hy sal óf die een minder ag en die ander een hoër, óf vir die een meer oorhê en die ander een afskeep. Julle kan nie God en Mammon dien nie."


Vergelyk ook 1 Joh 2:15-17 – “Moenie die sondige wêreld en die dinge van die wêreld liefhê nie. As iemand die wêreld liefhet, is die Vader se liefde nie in hom nie. Die wêreldse dinge – alles wat die sondige mens begeer, alles wat sy oë sien en begeer, al sy gesteldheid op besit – kom nie van die Vader nie maar uit die wêreld. En die wêreld met al sy begeertes gaan verby, maar wie die wil van God doen, bly ewig lewe.”


God is ons Christen gelowiges se onbetwisbare Eienaar. Alles behoort aan God: “Die aarde en alles wat daarop is, die wêreld en dié wat daar woon, alles behoort aan die Here” (Ps 24:1); “Al die diere in die bos is Myne, die wild op duisend berge. Al wat roer op die veld is Myne, want die aarde en alles wat daarop is, behoort aan My” (Ps 50:10-12). Dit bring ons by die vraag: “Wat verwag God van my om te doen?” God ontferm Hom 24/7 oor ons. Om Christen te wees is nie ‘n “part-time job” nie, dit is voltyds. Daar kan nie tyd afgelê word vir oortyd gewerk nie. Daar kan nie “bietjie verlof” geneem word om in die verloftyd nie Christen te wees nie. Ons bly Christen! Die vraag is egter: Is ek 24/7 vir God soos wat God 24/7 is vir my?


Jesus verklaar: “Julle kan nie God en Mammon dien nie.” Niks op aarde behoort aan ons nie. God het ons die gebruikreg daarop en daarvan gegee. Hy het dit tot ons beskikking gestel en ons mag dit daarom geniet. Dit moet net nie ons baas word nie, of nog slegter, ons god – ons Mammon. Want dan besit ons niks, maar Mammon besit ons. Dit is nie die wêreld wat sodanig boos is nie maar die verskeidenheid bose begeertes wat die wêreld onder sy beheer hou met Mammon as “CEO.”


Verbied Jesus materialisme? Nie noodwendig nie, Hy waarsku teen die siekte van materialisme. Om baie te besit is nie ‘n sonde nie, maar wanneer dit ‘n selfsugtige begeerte word is dit wel. Valse roem en trots op ‘n mens se besittings lei tot versaking van jou afhanklikheid van God. Gevolglik lei dit tot ‘n groot mate van selfverheerliking en word mens “godjie-van-sy-eie-koninkrykie.” “Gewoonlik word die absolute lojaliteit aan God en gemeenskap met Hom dan verruil vir selfgerigte eiebelang wat vernietigend is vir jou Christelike identiteit” (Prof. Jan du Rand).

“En die wêreld met al sy begeertes gaan verby.” Eiewaan en groei van jou bankbalans ten koste van jou siel, kan jou laat ly.

“Maar wie die wil van God doen, bly ewig lewe.” Hou Mammon weg wat jou maklik in sonde kan begewe!


Gebed: Dankie Here vir die besef dat die belangrikste dinge in die lewe nie dinge is nie. Bevry ons van die vervlietende vermaak wat mammon gee. Bevry ons van die afhanklikheid van die tydelike bevrediging wat in die verganklike dinge van mammon te vinde is. Plaas ons eerder in ‘n verhouding met U onbreekbare liefdesbande. Dit is net U wat blywend kan versadig. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page