top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


GOD EN MAMMON


Matt 6:24 – “Niemand kan vir twee base tegelyk werk nie. Hy sal óf die een minder ag en die ander een hoër, óf vir die een meer oorhê en die ander een afskeep. Julle kan nie God en Mammon dien nie.


Vergelyk ook Fil 3:19 – “Die verderf is hulle einde; die maag is hulle god; hulle skande is hulle trots; hulle is aardsgesind.


Satan het sy laaste troefkaart gespeel om Jesus in die woestyn te versoek deur vir Hom al die koninkryke van die wêreld met al hul prag te wys. Hy sou dit vir Jesus gee as Jesus neerval en hom aanbid (Matt 4:9). Verregaande!!! Toe nie so nie. Satan speel vandag nog dieselfde troefkaart en menigte mense aanvaar die aanbod. Jesus het satan weggestuur deur aan te haal uit die Skrif: “Daar staan geskrywe: ‘Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien’ (Deut 6:13), menigte mense word gevang deur die oudste “trick” in die boek van satan en buig die knie voor Mammon.


Wie is Mammon? Mammon is die rykdom waarop mens al sy vertroue plaas. Dit is die selfsugtige hebsug wat ‘n mens se hart verower en jou van God vervreem. Die Bybel verwys nie na geld wat die wortel van allerlei kwaad is nie, maar na die liefde daarvoor: “Geldgierigheid is ‘n wortel van allerlei kwaad. Party het geld nagejaag en toe van die geloof afgedwaal; daardeur het hulle hulleself baie ellende op die hals gehaal” (1 Tim 6:10).


Geldgierigheid het ‘n mededingende saligheid geword – Rykdom koop alles; Rykdom koop party uit die gemors waarin hulle hul bevind; Rykdom word ‘n maatstaf, ‘n enigste begeerte. Dit word die enigste wapen om die lewe aan te pak. Dit word al waarvoor gelewe word en alles word om dit beplan en uitgevoer. Rykdom veroorsaak dat mense as ”stepping stones” gebruik word om bo uit te kom. God word eenkant toe geskuif!


Materialiste stel hul vertroue in stoflike dinge. Hulle glo hul besittings maak hul gelukkig. Hul duur motors sal hul reis veilig maak; Hul duur klere en juwele dwing gesag af en bring geluk; Hul pragtige huise lok baie vriende na partytjies – alles Mammon! God sê: “My seun, gee my jou hart.” Mammon sê: “Daar is nie ‘n God nie, jou hart behoort aan my.” God sê: “Wees tevrede met wat jy het. ‘Wat ‘n mens het, is beter as wat hy begeer’ (Pred 6:9). Mammon sê: “Die wêreld bied baie dinge, kry dit, jy verdien dit – geld, besittings, “fair or foul.” God sê: ”Wees eerlik en nie korrup.” Mammon sê: “Eerlikheid bring jou niks in die sak nie.” God sê: “My koninkryk sluit vir jou die ewigheid oop.” Mammon sê: “Dit gaan oor die GROOT ‘Y’ – Waar jy BLY; Wat jy RY; Wat jy KRY.” Wat Mammon egter nie byvoeg nie is: Pasop, dit rym met LY. God sê: “Dit is tydelik, Jesus is vir ewig! Vertrou op Hom! Hy bied blywende geluk!”


"By Mammon se bank wag tydelike voordele soos status, voorspoed en mag. Sy geslepe bestuurder vertel ongelukkig nie dat die belegging soos mis voor die son gaan verdwyn nie en dat teëspoed, maagsere, depressie, spanning en bekommernis die voorland is nie. God daarenteen waarborg ewige dividende op enige belegging by Sy hemelse bank. Hy beskerm ons belegging met Jesus se lewe” (Prof Stephan Joubert)


Gebed: Ons Vader, dankie dat U ons waarsku teen materialisme. Dankie dat ons die gawes wat U tot ons beskikking stel, kan geniet. Dankie dat U ons toelaat dat ons self kan besluit hoe om dit te bestuur. Weerhou ons asseblief daarvan om nie deur hierdie gawes besit te word nie want dan word die mammon ding Mammon, 'n iemand wie se naam met ‘n hoofletter geskryf word. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page