top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


AS JULLE VAS


Matt 6: 16-18 – “As julle vas, moet julle nie soos skynheiliges met lang gesigte rondloop nie. Hulle mismaak hulle gesigte sodat die mense kan sien dat hulle vas. Dit verseker Ek julle: Hulle het hulle beloning klaar weg. Nee, as jy vas, versorg jou hare en was jou gesig sodat niemand kan sien dat jy vas nie, behalwe jou Vader wat jy nie kan sien nie. Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon.”


Vergelyk ook Jes 58: 6-7 – “Is die vas wat Ek wil hê nie dít nie: om dié wat onregverdig gevange gehou word, te bevry, om die juk wat op mense druk, af te haal, om verdruktes vry te maak, om elke juk te breek? Is dit nie dat jy vir dié wat honger is van jou brood gee nie, dat jy die armes en die dakloses ‘n blyplek gee nie, ........”


Die derde van drie voorbeelde wat Jesus voorhou om hierdie lewe van geregtigheid te beoefen, handel oor vas. Om te vas is om as teken van verootmoediging voor God geen kos of drank te gebruik nie. Hoewel dit net op die groot versoendag (Lev 16:29) verpligtend was, het vrome Jode in Jesus se tyd op Maandae en Donderdae gevas (Luk 18:12). Die gebruik was ook om te vas ter viering van groot gebeurtenisse in die Joodse geskiedenis (Est 9:31). Om te vas het uitdrukking gegee aan hartseer (1 Sam 31:13), verootmoediging (Esra 8:21), berou (1 Sam 7:6), God se raad te vra (Eks 34:28) en selfopgelegde straf. Jesus het ook gevas voor die versoekings (Matt 4:1-4) en selfs Paulus het gevas (2 Kor 6:5).


Maandae en Donderdae was markdae in die destydse Israel. Van sonsopkoms tot sonsondergang, het die Jode hierdie dae, wanneer daar ‘n groot samedromming van mense was en meer mense medelye kon betoon, gebruik om te vas. Groot vertoon is gelewer met verslete klere wat aangetrek is, hare wat nie gekam is nie en gesigte wat wit gesmeer was om vir ander te wys dat hulle vas. Om hul kos op te offer ter wille van hul godsdiens, het ‘n martelaarshouding op die gesig van die skynheiliges geplaas wat gevolglik veroorsaak het dat hulle hoër agting sou kry.


Jesus ontmasker nou hierdie doelbewuste skynheilige optredes (Jes 58:3-5). Wanneer ‘n dissipel van Jesus vas, tree hy in alle opsigte soos gewoonlik op, sodat niemand kan sien dat hy vas nie, “behalwe sy Vader wat hy nie kan sien nie.” Om te vas was goed vir die gesondheid veral vir hulle wat leef om te eet instede van eet om te leef. Dit is goed vir self-dissipline en leer ‘n mens om ‘n slaaf van ‘n gewoonte te raak, veral met gewoontes wat nie maklik beheer kan word of selfs gestaak kan word nie. Die doel van om te vas is sodat die aardse seëninge ons gids kan wees en nie ons slaweketting nie.


God bepaal hoe ‘n vasdag moet lyk – “Is die vas wat Ek wil hê nie dít nie: om dié wat onregverdig gevange gehou word, te bevry, om die juk wat op mense druk, af te haal, .......” (Jes 58:6-7)


Gebed : Hemel Vader, behoed ons daarvan om ons godsdienstige oortuigings uit te basuin of selfs op ‘n skynheilige manier ander te probeer beïndruk. Weerhou ons daarvan dat ons in die openbaar ‘n skynheilige godsdienstige reputasie probeer handhaaf. Maak ons vreugdevolle dissipels wat bereid is om ons lig te laat skyn en sout vir hierdie aarde te wees. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page