top of page

E-Kerk Gedagte vir Vandag


GEBED

Matt 6:9-13 – “So moet julle bid: Ons Vader.....”

Afsluiting van die modelgebed: “Amen.”

Vergelyk ook 2 Kor 1:20 – “Jesus Christus, die Seun van God is die ‘ja’ van God, die ‘ja’ op al die beloftes van God. Daarom is dit ook deur Christus dat ons tot eer van God daarop ‘Amen’ sê.”

Wat beteken Amen? Amen is die Griekse vertaling van ‘n Hebreeuse woord wat eintlik “vastigheid” of “trou” beteken. “Amen wil eintlik sê dit is waar en seker. My gebed is baie sekerder deur God verhoor as wat ek in my hart voel dat ek dit van Hom begeer” (Heidelbergse Kategismus antw. 129). Dit is dus nie ‘n stopwoordjie wat aandui dat die gebed klaar is nie.

In die evangelies gebruik net Jesus die woord amen. Dit was Sy manier om krag by Sy woorde te sit en Hy gebruik dit nie minder as 24 keer nie. Die amen is so tipies van Jesus se eie trou en rotsvastheid dat Hy in Openbaring selfs die Amen genoem word – “So sê die Amen, die geloofwaardige en ware getuie, Hy deur wie God alles geskep het: Ek weet.......” (Op 3:14). Amen is ‘n bewys van absolute vertroue en ware berusting in God.

Waarom is dit so belangrik om daarop te vertrou? Dit plaas die adres en verhoring van gebed buite onsself – op God en Sy beloftes. Wie God in Christus aanroep, staan op vaste grond. In Christus is al God se beloftes ja en amen, vas en seker (2 Kor 1:20-21).

Amen spreek ook die saak van gevoel en begeerte aan. Baie mense “voel” nie seker dat God hul gebede hoor nie. Dit voel asof hul versugtinge net tot by die plafon kom en daar eindig. Gaan buitekant toe, dan is die plafon oneindig. Ander wonder of hulle regtig ernstig genoeg bid? Hierdie gevoelens word opgehef aan die einde van die gebed deur “Amen.” Daarmee is ek by die regte adres – God se adres – en kan ek verseker weet Sy adres is my adres ook.

Johannes se visioen van die Lam op die troon word begelei met hemelwesens wat roep: ”Amen! Kom, Here Jesus.” En Jesus antwoord: “Ja, Ek kom gou.” Die lydende gemeente antwoord: ”Amen! Kom, Here Jesus!” (Op 22:20).

God is ‘n “Amen-God”, daarop kan ons reken. Amen!!!

Gebed: Ons Vader in die hemel, Amen-God, U teenwoordigheid by ons is meer as enige gawe wat U ons kan gee. Kom, Here Jesus, kom genees ons verlede. Kom Here Jesus, vul ons met vreugde vir elke dag. Kom, Here Jesus, verander ons bestaan in ware Lewe. Kom, Here Jesus, laat U krag ons wil versterk. Kom, Here Jesus, laat U goedheid ons wese deurstraal. Dankie dat U Uself onvoorwaardelik aan ons gee. Help ons om onsself aan U te gee. Dankie dat U ons adres, U adres gemaak het. AMEN!!!

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page