top of page

E-Kerk Gedagte vir Vandag


GEBED

Matt 6:9-13 – “So moet julle bid: Ons Vader.....”

Afsluiting van die modelgebed: “Aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid.”

Vergelyk ook Op 5:13b – “Aan Hom wat op die troon sit, en aan die Lam behoort die lof en die eer, die heerlikheid en die krag, tot in alle ewigheid.”

Alhoewel hierdie lofrede aan die einde van Jesus se modelgebed nie deel is van die vroegste tekste nie, is dit ‘n gepaste latere byvoeging daartoe. Dit leer vir ons dat ons gebede veel meer moet wees as net uiting van ons nood, vrees, kommer en onrus. Hierdie lofspraak leer vir ons dat die gebed ook lofsegging en aanbidding moet wees. Ons besing God se lof omdat ons as gelowiges die vaste vertroue het dat Hy ‘n Verhoorder van ons gebede is.

“Aan U behoort die koninkryk” – God is die grootmagtige Heerser oor die ganse heelal. Die hemel is Sy troon en die aarde die voetbank van Sy voete. Daar is niks wat buite Sy geskape ryk val nie. Toe Jesaja die Here in ‘n gesig gesien het, het hy uitgeroep: “Dit is klaar met my! Ek is verlore!” (Jes 6:5) “Met wie kan ons God vergelyk? Wie het die waters in die holte van sy hand afgemeet, met die breedte van sy hand die maat van die hemel bepaal, met ‘n maatemmer die grond van die aarde afgemeet, met ‘n skaal die berge en die heuwels geweeg?” (Lees Jes 40:12-26).

“Aan U behoort die krag” – God is die enigste Bron van mag. Buite God om bestaan daar nie so iets soos mag nie. Alle gesagdraers ontvang hulle gesag uit genade van God en dit is slegs gedelegeerde gesag. Hulle moet verantwoording doen aan God vir die wyse waarop hulle hul gesag hanteer en gebruik. Selfs satan staan onder die gesag en mag van God se krag. God gee ook krag aan die kragtelose – “Hy gee die vermoeides krag, Hy versterk dié wat nie meer kan nie. Die wat op die Here vertrou, kry nuwe krag” (Jes 40:30-31).

“Aan U behoort die heerlikheid tot in ewigheid” – God is instaat om ons gebede te verhoor. Hy is ‘n God met groot heerlikheid. Die heerlikheid van God bestaan van ewigheid af, is steeds daar en sal vir ewig wees. Wanneer ons na die wêreld van vandag kyk met al sy wanhoop, moedeloosheid, ellendes en sonde, blyk dit of God se heerlikheid nie meer bestaan nie. Maar ons gelowiges weet dat hierdie wêreld verbygaan – “Maar ons leef in die verwagting van ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde wat God belowe het en waar die wil van God sal heers. Aan Hom behoort die heerlikheid, nou en tot in ewigheid!” (2 Pet 3:13, 18b).

Gebed: En nou, aan U, die God wat in staat is om ons van wanhoop te weerhou; wat ons bevry en verlos; wat keer dat ons nie val nie; wat ons oplig uit die dal van hooploosheid en bring na die bergtoppe van hoop; wat ons uitlei uit die middernag van desperaatheid na die dagbreek van hoop – aan U, God en Seun en Heilige Gees, kom toe die eer en die mag en die heerlikheid en krag, vir ewig en ewig.

Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page