top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


GEBED


Matt 6:13b – “....maar verlos ons van die bose.”


Vergelyk ook Kol 2:15 – “God het die bose magte ontwapen en hulle in die openbaar vertoon deur hulle as gevangenes in die triomftog van Christus mee te voer.”


Na aanleiding van die sesde bede, verklaar Die Heidelbergse Kategismus dat ons in onsself so swak is, dat ons nie een oomblik staande kan bly teen ons doodsvyande, die duiwel, die wêreld en ons eie sondige natuur wat nie ophou om ons aan te val nie. Daarom moet ons nie ophou om in gebed, God te vra dat Hy ons moet help om teenstand te bied in hierdie geestelike stryd, totdat ons eindelik die oorwinning volkome behaal het.


Die stryd van die bose gaan dwarsdeur ons lewe voort. Selfs Paulus het magteloos teen die bose gestaan: “Ek begryp self nie wat ek doen nie, want wat ek wil doen, dit doen ek nie, maar wat ek haat, juis dit doen ek.....” (Rom 7:15-21). “Daarom, wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie” (1 Kor 10:12). Die finale oorwinning oor die bose verkry ons eers wanneer ons in die lewe hierna, die kroon beêrwe.


Satan moet nie onderskat word nie. Ds H. Volten sê “Hy staan aan die hoof van ‘n magtige ryk. Hy is nie alomteenwoordig nie maar het ‘n magtige ondersteuningsnetwerk (bose geeste in die lug – Ef 6:12). Hy is nie almagtig nie maar moenie sy mag onderskat nie. Hy is ‘n gemene verleier en leuenaar – die vader van die leuen. Hy gebruik vriende, kerke en selfs die Bybel om mense te verlei. Hy is ‘n gemene aanklaer – hy verlei mense om te sondig dan gaan verklik hy die sondaar by God (asof God nie al klaar weet nie). Hy konkel in die donker – hy is voortdurend besig om met groot presiesheid sy doodsberigte te versprei.”


Luther het gesê dat hy elke oggend met die sesde bede opstaan want dan was die “aanvegtings” van satan en sy trawante ten minste vir die dag beperk. God sal dan die bose nie toelaat om hom te versoek nie. Jakobus se raad is: “Onderwerp julle dan aan God. Staan die duiwel teë en hy sal van julle af wegvlug” (Jak 4:7). Jesus kon die duiwel teëstaan in die woestyn. Drie keer het satan probeer om Jesus te versoek. Drie keer kon Jesus hom weier met die woorde: “Daar staan geskrywe....” (Matt 4:1-11). Jesus het satan met die Bybel teëgestaan en satan het Hom verlaat want hy het besef hy voer ‘n verlore stryd.


Waar laat dit ons? Paulus reken ons moet die wapenrusting wat God aan ons gee, “aantrek sodat ons op ons pos kan bly ondanks die listige aanslae van die duiwel. Ons stryd is nie teen mense nie maar teen die bose magte van hierdie sondige wêreld” (Ef 6:10-18). Deel van die wapenrusting is die swaard van die Gees, die woord van God. Wanneer ‘n soldaat na die gevegsfront gegaan het, moes hy geweet het hoe om sy swaard te gebruik, anders was hy dood. Wanneer ons die “gevegsfront” betree, moet ons weet hoe om ons “swaard”, die Woord, te gebruik anders is ons dood. Daarom moet ons die Woord ken en toepas om die bose magte van hierdie sondige wêreld te kan teëstaan. Jesus was suksesvol daarmee! Met ons Vader se hulp kan ons ook suksesvol wees.


Gebed gee die energie om die volle wapenrusting te kan dra. Elke deel daarvan is nodig anders kry die duiwel dalk net ‘n gaping.


Gebed: Ons Vader, soos U weet voer ons ‘n daaglikse stryd teen die bose magte van hierdie sondige wêreld. Ons geestelike stryd om standvastig te bly in en vir die evangelie, kan alleenlik met die hulp van U krag gepaard gaan, dieselfde krag wat U geopenbaar het met Jesus se opstanding en hemelvaart. Laat ons wandel in U Gees en U Woord volgens U wil. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page