top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


GEBED


Matt 6:12 – “....en vergeef ons ons oortredinge soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree;”


Vergelyk ook Matt 6:14-15 – “As julle ander mense hulle oortredinge vergewe, sal jul hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle ander mense nie vergewe nie, sal julle hemelse Vader julle ook nie julle oortredinge vergewe nie.”


Die behoefte aan sondevergifnis is seker een van die dringendste behoeftes by elke mens. Wat egter treffend is, is dat Jesus ons leer om vir ander se oortredinge ook te bid. Soms voel dit asof mens se eie oortredinge só baie is dat daar nie nog tyd is om God met ander se probleme ook op te saal nie. Hulle kan mos maar self vir hul eie skuld by God instaan. Buitendien, ons kan mos nie sommer enigiemand saam met ons in die beskuldigdebank intrek nie. Ons moet egter onthou dat Jesus steeds die Fariseërs wat ek-gesentreerd is in konteks gebruik. Hul bedes was ter wille van hul eie skuldvergifnis en nie ter wille van die Vader en Sy koninkryk nie. Ons moet dus onselfsugtig bid vir ons broers en susters, m.a.w. vir die kerk wat in skuldnood verkeer.


Waarom moet ek nog bid vir sondevergifnis? Jesus is ons sonde-offer en Hy het mos klaar daarvoor aan die kruis betaal: “Christus was sonder sonde, maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel sodat ons, deur ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan wees” (2 Kor 5:21). Ons móét bid vir sondevergifnis want dit is nodig. Daardie versoening wat ons in Christus reeds ten volle besit, moet ons daagliks weer vir ons toeëien. Ons sondig steeds daagliks, selfs daarvoor het Christus reeds betaal, maar ons moet tog om dié genade dat hy dit ook sal vergewe, elke dag bid. Ons word selfs in sonde gebore en ons hele lewe is ‘n proses van heling. God is daardie gom wat die heling bewerkstellig wanneer ons daarvoor vra!


Vergun my weer ‘n retoriese vraag: “Ek wonder hoeveel mense het al Matt 6:14-15 mooi en stadig gelees sodat dit insink?” Ons vra God om te vergewe soos ons vergewe! SKRIKWEKKEND! Maar Here .... Ek het geen skuld daaraan nie! “As jy dus jou gawe na die altaar toe bring en dit jou daar byval dat jou broer iets teen jou het, laat staan jou gawe daar by die altaar en gaan maak eers vrede met jou broer en kom dan en bring jou gawe” (Matt 5: 23-24). Daar staan nie: “en dit jou byval dat jý iets teen jou broer (suster) het nie, maar “dat jou broer iets teen jou het.” Jesus se opdrag is dat moet gaan versoen. Vergifnis se antwoord is nie 70 x 7 = 490 nie, dit is onbeperk!


Gebed: Ons Vader, ons grootste skuld is ons onvermoë om soos U te kan vergewe. Here, hoe kan ons vergifnis verwag as ons nie kan vergewe nie en dit terwyl U dit onlosmaaklik gekoppel het aan die sekerheid van U vergifnis? Ag Here, as ons net effens te na gekom word of selfs iemand na aan ons, beledig ons links en regs, soek ons vergelding eerder as vergewing. Ons veroordeel so graag. Vader, vergewe ons en lei ons om soos U te kan vergewe. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page