top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


GEBED


Matt 6:11 – “Gee ons vandag ons daaglikse brood;”


Vergelyk ook Joh 6:33, 51 – “Die brood wat God gee, is Hy wat uit die hemel kom en aan die wêreld die lewe gee. Ek is die lewende brood wat uit die hemel gekom het. As iemand van hierdie brood eet, sal hy ewig lewe. En die brood wat Ek sal gee, is my liggaam. Ek gee dit sodat die wêreld kan lewe.”


Ons broodporsie is vir “vandag”. Nie môre, volgende week of volgende jaar s’n nie – VANDAG. Jesus leer ons om daagliks afhanklik te wees van ons Vader. In hierdie swak ekonomiese toestande is dit menslik om bekommerd te wees oor môre. Bekommerd oor wat ons gaan eet, inflasie, rentekoerse, ons werk, afleggings, beleggings, aftrede ens. As dit is waar ons vertroue lê, wees asseblief bekommerd. Bekommer jou dood want dit gaan dalk nie beter word nie. Maar as jou vertroue in ons Voorsiener, wat ons Vader is vir jou daaglikse behoeftes, is daar niks om oor bekommerd te wees nie. Vertrou en leef!


So in die middel van die volmaakte gebed – na drie maal se suiwer hemelse dinge gevra is – kom ons by die alledaagse behoeftes. Jesus wys dat dit ook belangrik genoeg is om voor ons Vader te bring. Ons Vader wat ons daagliks versorg met alles wat die liggaam nodig het – die fisiese behoeftes (brood); geestelike behoeftes (vergifnis) en spirituele behoeftes (bewaring teen sonde). Helmut Thielicke reken dat hierdie behoeftes 90% van ons daaglikse lewe uitmaak. As ons nie daarvoor kon bid nie, sou 90% van ons lewe buite God se voorsienigheid val.


Wanneer ons vir God vra om te “gee”, is dit nie ‘n bevel aan ons Vader nie, maar ‘n bede. Ons erken dat God die Bron is van alles wat goed is: “Elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk kom van Bo” (Jak 1:17). Ons bely ook dat ons van God afhanklik is om te kan voortleef: “Laat jou sorge aan die Here oor, Hy sal vir jou sorg” (Ps 55:23). Om egter te vra en dan agteroor te gaan sit en wag dat God voorsien, gaan nie gebeur nie. Dit is waar dat die saad wat nodig is om brood te maak, van God af kom. As ons dit nie in die grond sit, bewerk en versorg nie, gaan dit niks voortbring nie. Ons moet immers ons kant ook bring!


Hierdie gebed om brood stu ook anderkant ons etenstafels en ons brood uit, na brood vir ander en die wêreld. Dit gaan oor dankbaarheid vir dit wat ons ontvang en diensbaarheid aan ander wat nodig het. “Wie hom oor ‘n arm mens ontferm, gee ‘n lening aan die Here, en Hy sal hom ten volle vergoed” (Spr 19:17). Wanneer ons bid en ontvang het, is ons opdrag: “Gee julle vir hulle iets om te eet. Want sover julle dit aan die geringstes gedoen het..... “ (Matt 25:34-40)


Gebed: Dankie ons Vader, dat U die enigste Bron is van alles wat goed is. Dankie dat niks anders ons kan baat behalwe dit wat U voorsien nie. Gee daarom dat ons al ons vertroue van alle skepsels aftrek, en ons vertroue daagliks op U stel. Dankie dat U voorsien en ons nie bekommerd hoef te wees nie. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page