top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


GEBED


Matt 6:9b – “laat U Naam geheilig word;”


Vergelyk ook Jes 6:3 – “Heilig, heilig, heilig is die Here die Almagtige. Die hele aarde is vol van Sy magtige teenwoordigheid.”


Die eerste drie bedes van Jesus se modelgebed aan ons, handel oor die belange van God en dan volg drie bedes waaroor ons as mense se belange mag bid. Jesus wil ons hierdeur leer dat daar ander belangriker sake is om oor te bid as wat ons eie liggaamlike en geestelike behoeftes is.


Ons begin ons gebed deur God te vra dat ons Sy Naam in ons, deur ons en by ons geheilig mag hou want ons erken Hom as die Heilige God. Meeste mense verheug hulle daarin as hul vaders deur ander hooggeag word. Baie stories en selfs advertensies beeld die beste pa’s uit, kinders spog oor hul pa’s – “My pa is groter of beter as jou pa” – alles in ons vermoë word aangewend om die aantasting van die oorsprong van ons familienaam, af te weer.


As deel van God se gesin is dit daarom ons plig om ons Vader in die hemel se Naam vurig te beskerm en te sorg dat die mooiste Naam wat ons ken, deur almal geëer word. Die heiliging van God se Naam moet meer belangrik wees as enigiets anders in ons lewe. Ons moet ons Vader se Naam só ‘lewe’ dat ander wat Hom nie ken nie, nie vir Hom lag of spot nie.


Wanneer ons God vra dat ons Sy Naam heilig sal hou, vra ons allereers dat ons Hom reg mag ken. Want hoe kan ons die naam van iemand heilig hou wat ons nie ken nie? Hoe leer ons God ken? Deur Sy woord aandagtig te lees en te studeer en met opmerksame oë na die natuur, te kyk. God se Naam is geskryf in die natuur en gegraveer in die geskiedenis. Van die wydste sterrestelsels tot in die kleinste atoomdeeltjie, geskiedenis van nasies en ons eie klein geskiedenissies, vind ons God se handtekening. Ons moet net met ‘n geloofsbril kyk dan sal ons Sy andersheid, Sy onvergelykbaarheid en Sy heiligheid, waarneem.


As God se Naam geheilig word, sal ons godslastering, meineed, huigelary, bygeloof, die ydellike gebruik van Sy Naam moet bestry. Dit begin by ons. Ons lewe, gedagtes, woorde en werke moet getuig van eer aan God se Naam. Sy heilge Naam moet ook uitgedra word aan hulle wat nog in duisternis woon, op die sportveld, by die skool, in die werksplek, by die braaiplekke, oral. “Nie aan ons nie, Here, nie aan ons nie, maar aan u Naam kom die eer toe, want dit is U wat liefde en trou bewys” (Ps 115:1).


Gebed: Here, skenk ons die krag om U Naam heilig te hou. Ons is oorweldig deur U Naam, laat ons daaraan gestand doen. Help ons om suiwer te dink, suiwer te praat en suiwer te doen. “Ons wil U Naam loof, nou en vir altyd, van waar die son opkom tot waar dit ondergaan” (Ps 113:2-3). Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page