top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


GEBED


Matt 6:9a – “So moet julle bid: Ons Vader.......”


Vergelyk ook Pred 4:17-5: - “Wees baie versigtig as jy na die huis van God toe gaan. Dit is beter om nader te kom en te luister as om jou offer te bring soos ‘n dwaas dit sou doen. Moenie te gou praat nie, moenie oorhaastig ‘n belofte aan God maak nie, want Hy is in die hemel en jy op die aarde.”


As iemand ons sou vra hoe om te bid, sou ons antwoord wees: “Bid asof jou lewe daarvan afhang!” Want ons hele lewe en die gehalte daarvan hang werklik af van die innigheid van ons gebedslewe. Jesus kom gee ‘n nuwe betekenis aan gebed in antwoord op die dissipels se versoek om hulle (en ons) te leer bid (Luk 11:1). Dit beteken natuurlik nie dat dit die enigste gebed is wat ons moet bid nie of wanneer ons bid, dit sonder nadenke sal doen nie. Dit moet altyd in alle opregtheid en erns gebid word. Hy gee vir ons toegang tot Hom, maar ons behoort Hom nie te nader met leë woorde, oppervlakkige gebede, rympies of beloftes wat ons ligtelik aflê nie. “Moenie te gou praat nie, moenie oorhaastig ‘n belofte aan God maak nie,” God mag dalk net jou belofte uitdaag en dan moet jy kan lewer!


Op bykans ongehoorde wyse mag ons, as Jesus se dissipels ons groot en Almagtige God aanspreek as “Ons Vader.” Benewens bepaalde name wat vir God in die Ou Testament gebruik word, word Hy ook op verskillende ander maniere geteken – Skepper, Verlosser, Koning, Regter ens. – en slegs vyftien keer as Vader aangespreek. Om God as Vader aan te spreek was selfs vir Jesus só heilig dat Hy dit net ses keer gebruik het in Markus se evangelie en ook net in die binnekring van die dissipels.


Nou kom leer Jesus ons dat ons die heilige God as Vader mag aanspreek. Die intieme aanspreekvorm maak ons Vader natuurlik nie ons pêl, of die “ou toppie daarbo” nie. Ons Vader moet steeds met respek en ontsag aangespreek word. Hy is ook nie net mý Vader nie , maar óns Vader wat ver verhewe bo ons is in Sy heiligheid en heerlikheid. Hy is ook die God wat afbuig na ons en met Vaderliefde bedek.


Hy is ons Vader, “aan wie die hele gemeenskap van gelowiges in die hemel en op die aarde sy bestaan te danke het” (Ef 3:15). Hy is ons Vader, die Bron van die lewe “uit Wie en deur Wie en tot Wie alle dinge is” (Rom 11:36). Hy is ons Vader wat as die almagtige Versorger, in Sy voorsienigheid die heelal met Sy eie hand onderhou. Hy is ons Vader wat as die Bron van die liefde “die wêreld so lief gehad het dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê” (Joh 3:16). Hy is ons Vader en nie net my Vader nie. Wat ‘n onuitspreeklike voorreg om kinders te kan wees van só ‘n Vader!!!!


Gebed: Ons Vader in die hemel, dit klink so ongelooflik dat U, die God wat hemel en aarde gemaak het, ons Vader is. Dankie tog Here, want dit gee ons daardie gerusstelling en vertoue om die dinge wat ons nie kan beheer en die dinge wat die lewe onseker maak, te aanvaar en daarmee saam te leef. Neem weg die selfsug wanneer ons U aanroep dat dit nie oor mý gaan nie, maar oor óns. Dankie dat U vir ons lief is net soos ons is maar té lief het om ons só te los. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page