top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


ARMSORG


Matt 6:3-4 – “As jy byvoorbeeld armes help, moet dit nie uitbasuin nie...... Nee, as jy iets vir die armes gee, moet jou linkerhand nie weet wat jou regterhand doen nie, sodat jou goeie daad verborge kan bly. Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon.”


Vergelyk ook Luk 18:22 – “Een ding kom jy nog kort: gaan verkoop alles wat jy het, en deel die geld aan die armes uit. Dan sal jy ‘n skat in die hemel hê. Kom dan terug en volg My.


Die mens wat gedurig bereken hoeveel hy gaan ontvang in ruil vir wat hy aan ander gee en doen, sien God as sy rekenmeester. As ek sóveel doen sal ek sóveel terug ontvang – ‘n balanstaat van debiete en krediete. God, ek het nou soveel gedoen, dit is nou U beurt!


Binne die “Kerk van Franciskus” in die Italiaanse dorpie Asissi, is daar ‘n publikasie wat die volgende legende voorhou: ‘n Engel het vir Franciskus besoek en vir hom gesê dat hy een wens wat waar sal word, kan neem. Hy het gewonder oor rykdom, roem, ‘n lang lewe, kennis en ander aardse dinge. Maar hy het uiteindelik besluit om elke dag goed te doen aan ander en dit só te doen, sonder dat hy self bewus sal word van wat hy doen. Hy kon nie wag om die engel sy wens mee te deel nie. Die engel het egter weggebly tot aan die einde van Franciskus se lewe. Franciskus wou by die engel weet waar hy al die jare was want hy wou sy wens vir die engel gee. Die engel het hom geantwoord: “Ek het geweet wat jou wens was en dit aan jou geskenk. Jou hele lewe was een groot daad van diens aan ander. Geseënd is jy tussen al die mense in hierdie wêreld.” (“Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon.”)


Wat is ons gelowiges in Christus se beloning? God se liefde en genade is eindeloos want dit is nie materialisties nie; Die satisfaksie wat daaruit verkry word omdat gehoorsaamheid aan Jesus geopenbaar is; Die ewigheidsbeloning kan nie in geld bereken word nie; “Stille, praktiese Christelike barmhartigheid het al meer mense vir die Koninkryk gewen as godsdienstige ywer” (F.W. Faber); God voeg meer en meer by sodat ons meer en meer diensbaar kan wees aan ander.


“Moenie ‘n weldaad weerhou van iemand aan wie dit toekom, terwyl dit in jou mag is om dit te bewys nie” (Spr 3:27).


“Wie hom oor ‘n arm mens ontferm, gee ‘n lening aan die Here, en Hy sal hom ten volle vergoed” (Spr 19:17).


Gebed: Hemelse Here, laat ons lig só skyn dat mense ons goeie werke kan sien. Nie om te sien hoe goed of oulik ons is nie, want dit is nie so nie. Dit gaan in elk geval nie oor ons nie. Laat dit egter wees om ons Christenskap te openbaar en God te verheerlik, nié ‘n motivering om ons eie populariteit te bevorder, of roem daarin of om ander se goedkeuring te verkry nie, maar in die Naam van Jesus Christus, ons Here. Amen


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page