top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


SKYNHEILIGHEID


Matt 6:1 – “Moenie julle godsdienstige pligte in die openbaar nakom om deur mense gesien te word nie, want dan kry julle geen beloning van julle Vader wat in die hemel is nie.”


Vergelyk ook Matt 23:28 – “So is julle ook (skrifgeleerdes en Fariseërs): van buite lyk julle vir mense vroom, maar van binne is julle vol huigelary en minagting van die wet.”


In die voorafgaande verse 17-48 van Matteus 5 het Jesus met “ses teenstellings” vir ons aangedui wat getrouheid aan die wet inhou ten opsigte van “oorvloediger geregtigtigheid.” Jesus waarsku nou dat hierdie getrouheid soos dit in die “godsdienstige pligte” van die Jode tot uiting kom, ‘n verkeerde motief kan hê, naamlik “om deur mense gesien te word.”


Dit is presies waarteen Jesus vroeër al gewaarsku het: “Ek sê vir julle: As julle getrouheid aan die wet nie meer inhou as dié van die skrifgeleerdes en die Fariseërs nie, sal julle nooit in die koninkryk van die hemel ingaan nie” (Matt 5:20).


Die strewe na oorvloediger geregtigheid kan erg skeef loop indien die gesindheid agter die handeling nie suiwer is nie. Wat was so sleg aan die Fariseërs se skynheiligheid? Hulle het God en die dinge van God gebruik om ander te beïndruk en dit was niks anders as selfsugtige optredes nie. “Alles wat hulle doen, doen hulle net om deur mense gesien te word” (Matt 23:5).


Maar... gelukkig is ons nie Fariseërs nie.....of is ons? Daar is ongelukkig mense wat voorgee dat hulle nét die eer van God en die welsyn van Sy kerk soek, maar wanneer daar in hulle harte gekyk word, staan EIEBELANG in vetgedrukte hoofletters daar geskrywe. Daardie sogenaamde “kerkheiliges” wat net so bietjie meer belangrik is as die res – die oorsteek van die grens na die Fariseërs. Die grens van ‘n selfgesentreerde godsdiens waar ék sal besluit hoe en waar en wanneer ék betrokke sal wees. As ons probeer om mense te behaag in plaas van God sal ons onnodig ly – “As ek nog steeds die guns van mense soek, sou ek geen dienaar van Christus wees nie” (Gal 1:10).

A.W. Tozer het die Christen en Godsdiens as volg opgesom: “Godsdiens is nie iets waar Ek kan besluit wanneer en waar en hoe Ek betrokke wil wees nie. Dit is om ‘n heilige liefde vir IEMAND te voel wat ek nog nooit gesien het nie omdat Sy liefde ver, wyd, hoog en diep strek; om elke dag vertroulik te praat met IEMAND wat ek nie kan sien nie; verwag om hemel toe te gaan, nie uit eie verdienste nie maar omdat ek glo in IEMAND wat vir my aan die kruis gesterf het en deur God uit die dood uit opgewek is; maak myself leeg om deur IEMAND gevul te word; wanneer ek swak is, deur IEMAND sterk gemaak word; arm is maar deur IEMAND ryk gemaak is – IEMAND wat die onsienlike sien, die onhoorbare hoor, weet van alle dinge en vrede gee wat alle verstand te bowe gaan.”


Dankie Jesus, dat U my IEMAND, my Alles is! Ek wil U kruisdraer wees.


Gebed: Here, weerhou ons van skynheiligheid want dit is harteloos en onbarmhartig. Ons lyk soms beter as wat ons werklik is maar Here, U sien ons binneste en weet hoe dit daar lyk. Ons is broos as gevolg van die sonde, maar ons hou ‘n goeie front van skynheiligheid voor want “wat gaan die mense van ons dink en sê.” Dankie Here dat dit nie oor mense gaan nie maar oor IEMAND wat weet van alle dinge en vrede gee wat alle verstand te bowe gaan. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page