top of page

E-Kerk -Gedagte vir Vandag


LIEFDE VIR DIE VYAND


Matt 5:43-48 – “Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘Jou naaste moet jy liefhê en jou vyand moet jy haat.’ . Maar Ek sê vir julle:... Wees julle dan volmaak soos julle hemelse Vader volmaak is.” (V 48)


Vergelyk ook Ef 5:1-2 – “Omdat julle kinders van God is en Hy julle liefhet, moet julle Sy voorbeeld volg. Lewe in liefde, soos Christus ons ook liefgehad en om ons ontwil sy lewe as ‘n offergawe gegee het, ‘n offer wat vir God aanneemlik was.”


Sjoe! Jesus maak dit nou baie moeilik! Eintlik maak Hy dit menslik onmoontlik. Hoe kan ek volmaak wees soos God? Jesus se versoek is verdoemend. Ek meen, selfs Paulus het gesê “ons het almal gesondig en is ver van God af” (Rom 3:23). Ons is van nature geneig om God en ons naaste te haat (Kategismus antw. 5). “Daar is nie een wat regverdig is nie, selfs nie een nie” (Rom 3:10). Ons kwalifiseer nie as volmaaktes nie – altans nie op grond van ons eie vermoëns nie! Om die waarheid te erken, dit is inderdaad net volmaakte mense wat die eise van enige van die opdragte van Jesus wat tydens die Bergpreek, kan nakom.


Hierdie volmaaktheid is anders. Dit is ‘n volmaaktheid van volkome oorgawe en toewyding aan God, om Hom en ons naaste lief te hê en te dien, ten spyte van ons foute. Om soos Noag, Abraham, Job, Dawid, Petrus, Paulus en nog vele ander Bybelhelde, God gedien het ten spyte van hul menslike tekortkominge! Ons moet net bereid wees om onsself as lewende offers aan God te gee. God sal dan ons denke vernuwe sodat ons kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed, aanneemlik en volmaak is (Rom 12:1-2). Gevolglik dínk en dóén ons anders. Uit dankbaarheid leef ons dan ‘n nuwe lewe wat nie aan hierdie sondige wêreld gelyk is nie.


Jesus roep ons tot perfeksionisme in ons liefdesdaad. God gee sulke opdragte omdat Hy van ons verwag om gehoorsaam te wees. Hy het ons perfek geskep en as Sy skepping het ons sekuriteit! Deur Sy genade het ons die Heilige Gees ontvang wat ons daagliks toerus om die doel wat God vir ons het, te bereik. Ons beroem ons op Christus en vertrou nie op uiterlike dinge nie (Fil 3:3). Ons kan in volkome oorgawe en toewyding God met ons hele hart dien. Ons leef vanuit die onuitputlike Bron!


Gebed: Here, U opdrag om vir ons vyande lief te wees is vir ons as sondaarmense onmoontlik. Om volmaak soos God te wees, nog moeiliker en stem ons onrustig. Dit laat ons twyfel aan ons kindskap tot U. Ons is gedurig besig om onsself te verdedig want ons is sensitief en jaloers en reageer gewoonlik verkeerd wanneer mense ons onsensitief behandel. Dankie dat U deur U Gees ons egter nuut maak. Ons hoef nie meer te twyfel in ons kindskap nie. Nou kan ons instrumente van U liefde wees en soos U kinders optree. Nou kan ons lewe as nuwe mense wat as die beeld van U geskep is (Ef 4:24). Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page