top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


LIEFDE VIR DIE VYAND


Matt 5:43-48 – “Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘Jou naaste moet jy liefhê en jou vyand moet jy haat.’ . Maar Ek sê vir julle:..... As julle net dié liefhet wat vir julle liefhet, watter loon kan julle nog verwag? Maak die tollenaars nie ook maar net so nie? En as julle net julle broers groet, wat doen julle meer as ander? Maak die heidene nie ook maar net so nie? (V 46-47).


Vergelyk ook Ef 5:3 – “Soos dit gelowiges betaam, moet daar van ontug, onsedelikheid in enige vorm, of gierigheid onder julle selfs geen sprake wees nie. Growwe, ligsinnige of vuil praatjies pas nie by julle nie; nee, dank aan God pas by julle.”


Jesus is nog besig met Sy sesde teenstelling – ‘liefde vir die vyand.’ Wat doen ons méér as die wêreld? Hoe kan ‘n mens in die regte verhouding met jou medemens kom wat anders is as die wêreld se voorbeeld? As genade-ontvangers, is dit ons plig om in liefde met almal te leef. Ons moet anders wees as die tollenaars. Jesus waarsku: “As julle getrouheid aan die wet nie meer inhou as dié van die skrifgeleerdes en Fariseërs nie, sal julle nooit in die koninkryk van die hemel ingaan nie” (Matt 5:20). En die wet is om met God en ons naaste in die regte liefdesverhouding te wees.


Maar.... Ek kan nie só lief hê nie! Ek kan nie in liefde saamleef met moeilike mense nie. Die ligsinniges, die ontugtiges, die onsedelikes, die vuil praters, die goddeloses en nog baie ander, is juis hulle wat my weghou en weglei van God af. Ek sal dus nie ‘n goeie dissipel van Jesus kan wees nie. Ek kan nie my naaste en veral die moeilikes so liefhê soos wat Jesus verwag nie. Ek kan nie maar net anderpad kyk terwyl hulle bedrieg, steel, beswadder en met ‘n verkeerde lewe voortgaan asof dit vir ewig gaan hou nie.


Jesus het nie ‘n onbereikbare ideaal gestel nie want Hy weet God kan hierdie ideaal van naasteliefde deur die werking van die Heilige Gees in ons moontlik maak! “As jou vyand honger is, gee hom iets om te eet; as hy dors is, gee hom iets om te drink; want deur dit te doen, maak jy hom vuurrooi van skaamte. Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie“ (Rom 12:20-21).


Ons moet steeds liefde betoon aan almal, nie oor hulle verkeerde dade nie maar om hul persoon. Dit is nie ons plig om te oordeel nie. Hulle moet self vir hul verkeerde dade verantwoordelikheid aanvaar. “Lewe as nuwe mense wat as die beeld van God geskep is: lewe volkome volgens die wil van God en wees heilig (Ef 4:24). As volgeling van Jesus is ons radikaal verander deur die Gees. Dit gun ons om daagliks só te lewe om as voorbeeld vir ander te wees, om hul lewe te verander sodat hulle ook strewe om na die wil van God en Sy beeld, te wil leef. Dít maak ons anders! ‘n Goeie voorbeeld ontbloot die duisternis en bring ons “vyande” ook in die lig.


Gebed: Dankie Gees van God, dat U ons lei om ons “vyande” uit die donker te bring na die lig. Nou is dit makliker om mekaar uit dankbaarheid te ondersteun en in liefde teenoor mekaar te leef. Dankie vir agapé-liefde – liefde ten spyte van.....onderdanig ten spyte van.... Werk deur ons Here, om in liefde te leef want dit oortref alles in waarde.

Amen


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page