top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


LIEFDE VIR DIE VYAND

Matt 5:43-48 – “Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘Jou naaste moet jy liefhê en jou vyand moet jy haat.’ Maar Ek sê vir julle: Julle moet jul vyande liefhê, en julle moet bid vir dié wat julle vervolg,....(V 44)

Vergelyk ook Rom 13:9b-10 – “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Die liefde doen die naaste geen kwaad aan nie. Daarom is die liefde die volle uitvoering van die wet.”


Jesus gee ‘n opdrag aan ons om ons vyande lief te hê en te bid vir hulle. Hierdie liefde verwys na die Bybelse agapé-liefde. Dit is ‘n onvoorwaardelike liefde aan die persoon vir wie ons lief moet wees om sodoende Jesus se opdrag na te kom. Dit is liefde in aksie en is gewoonlik nie van wederliefde afhanklik nie. Dit is om liefde te gee ten spyte van die ander persoon se reaksie. Daar is geen ruimte vir voorwaardes nie.


Met respek, weerspreek Jesus Hom nie dalk met hierdie opdrag nie? Die Bybel is immers vol van voorbeelde waar die vyand gehaat word. Dawid, die man na God se hart, het God gevra: ”Moet ek nie ‘n weersin hê in mense wat teen U in opstand is nie? Ek haat hulle met ‘n uiterste haat, want hulle is ook my vyande” (Ps 139:21); Paulus wens ‘n kopersmid God se vergelding toe (2 Tim 4:14); Petrus stuur Simon, ‘n towenaar verderf toe omdat hy hulle wou omkoop (Hand 8:20). Hoe nou? Al drie van hulle was Geesvervulde mense.


God het self ook anders opgetree. Hy het die sewe nasies wat die beloofde land beset het, aan Israel oorgegee en almal moes om die lewe gebring word (Deut 7:1-2). Hoe kon God so ‘n bevel aan Moses gee as Hy die God van liefde is? God se weë is nie ons weë nie. Ons mag nie God se handelinge bevraagteken nie. God is soewerein. God gee nie antwoorde nie, Hy is die antwoord!


In Jesus se donkerste uur het Hy hierdie agapé-liefde bewys terwyl Hy aan die kruis gehang het: “Vader vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie” (Luk 23:34). Stefanus het agapé-liefde bewys terwyl hy op sy knieë gestaan het en die Jode besig was om hom dood te gooi met klippe. Hy bid vir sy vyande: “Here, moet hulle tog nie hierdie sonde toereken nie” (Hand 7:60).

Ons moet steeds Jesus se opdrag nakom, al voel dit soos ‘n verdoemende handeling. “Goed, ek sal vergewe maar nie vergeet” – klink dit bekend? Dit is deel van ons menslike natuur – om ‘n grief te vertroetel en om ou koeie uit die sloot te haal. Hierdie opdrag van Jesus is bindend en kan nie halfpad tegemoet gekom word nie. Om net dié lief te hé wat my liefhet is nie die antwoord op Jesus se versoek nie. Ons kindskap maak die verskil al is dit ook hóé moeilik.


Gebed: Almagtige Vader, ons liefde is só ontoereikend! Ons verskille teenoor mekaar word gemeet aan kleredrag, kultuur, tradisie, verskil in taal, velkleur, ag, en sommer nog baie ander verskonings om mekaar nie as ons naaste te aanvaar nie. Dit is soms belaglik dat ons aan onlogiese mensgemaakte opinies vasklou om juis nie U opdrag te wil uitvoer nie. Kortom Here, skenk ons asseblief daardie fyn aanvoeling sodat ons kan onderskei om die regte ding te sê, te doen en te bid – selfs vir hulle wat ons as ons vyande beskou.

Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page