top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


VERGELDING


Matt 5:38-42 – “Julle het gehoor dat daar gesê is: ......... “Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle nie teen ‘n kwaadwillige mens verset nie ...... “Gee aan hom wat iets van jou vra, en moet hom wat van jou wil leen, nie afwys nie.” (Vs 42).

Vergelyk ook Deut 15:7-11 – “Moet nie hard en suinig wees teenoor ‘n broer (suster) wat arm is nie. Wees vrygewig en leen hom wat hy nodig het. Gee vryelik en moenie sleg voel omdat jy gegee het nie. Daar sal altyd armes wees en daarom het ek jou beveel om vrygewig te wees teenoor dié wat in nood en arm is.” (Teks verkort).


Jesus se vierde illustrasie ten opsigte van vergelding, was met respek gesê, menslik gesproke, verregaande. In aansluiting by Deut 15:7-11 moet ons as dissipels van Christus, iemand wat iets van ons vra of wil leen, nie afwys nie, maar gee. Ons hulp moet ook nie slegs tot familie of deur ‘n letterlike interpretasie van die bepalings teen woekerrente (Eks 22:25-27), beperk word nie.


Indien ons gelowiges aan almal gee wat vra sal ons binnekort self in armoede verval! Buitendien kontrasteer Paulus hierdie illustrasie van Jesus met: “As iemand nie wil werk nie, moet hy ook nie eet nie” (2 Tess 3:10). By verskeie geleenthede het mense ons al gekonfronteer met lang stories van net R50 nodig vir brandstof om ‘n siek kind of vrou by ‘n dokter in ‘n ander dorp te kry, terwyl ons weet sy storie is onwaar en hy die geld vir ander doeleindes wil hê. Nou sê Jesus ons moet gee?


Wanneer ons as gelowiges in Christus gekonfronteer word met soortgelyke situasies, moet ons onthou dat Jesus hier praat met Sy dissipels – ons wat reeds al die geseënde-etiket ontvang het tydens Sy Saligsprekinge. Ons wat Sy agt “Geheime tot Geluk” ontvang het weet reeds hoe ons afhanklik van God is, ons weet hoe om te treur by Hom oor ons bankrotskap as gevolg van sonde, ons weet ons is barmhartig, ons tree op as sagmoediges want ons is vredemakers. Wanneer ons die ander wang draai, is ons vredemakers. Wanneer ons die hofgeding voorkom, is ons vredemakers. Om die ekstra kilometer te loop is die werk van ‘n vredemaker. Wanneer ons aan iemand gee wat werklik in nood is, is ons geseënde vredemakers. Wanneer almal om ons swartgallig is oor die toekoms, antwoord ons in sagmoedigheid dat die Skepper steeds in beheer is.


Wanneer Jesus hierdie illustrasies voorhou, klink dit aanvanklik na ‘n bankrotresep vir ons. Dit is feitlik onwaarskynlik om dit toe te pas in vandag se korrupte wêreld.


Maar....... dit is nie onmoontlik nie, want.....


Jesus het juis na hierdie korrupte wêreld toe gekom om in liefde, die voorbeeld aan ons te stel. Tydens Jesus se arrestasie het Judas Hom gesoen – Jesus het Judas nie uitgemaak as ‘n skelm nie, maar gesê: “Vriend, doen wat jy gekom het om te doen” (Matt 26:50). Tydens Jesus se verhoor, is Hy in die gesig gespoeg, geslaan en gespot: “Jy is mos ‘n profeet, Christus! Sê vir ons wie het jou geslaan?” (Matt 26:67) – Jesaja se profesie verwys juis na hierdie voorval: Jesus het letterlik “nie Sy wang weggedraai toe Hy bespot en bespoeg is nie” (Jesaja 50:6). Tydens Jesus se kruisiging het die soldate beide Sy onder- en bokleed gevat (Joh 19:23). Laastens het die mense Jesus aan die kruis gespot en toegesnou om Homself te red – instede om terug te baklei, vra Hy God vir ‘n seëning: “Vader vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie” (Luk 23:34).

“Dit is ‘n goeie mens wat hom ontferm en wat uitleen en in al sy sake reg optree” (Ps 112:5).


Gebed: Here, ons ken U liefde. Ons besef dat die wedersydse liefde wat U van ons verwag, veeleisend kan wees. Maar gelukkig weet ons ook dat U, o Gees, vir ons toerus met daardie onbaatsugtige liefde om telkens Christus se nederigheid na te streef om te kan dien. Help ons om te kan gee, prys te gee en te kan deel dit wat ons het.

Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page