top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


VERGELDING


Matt 5:38-42 – “Julle het gehoor dat daar gesê is: ......... “Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle nie teen ‘n kwaadwillige mens verset nie ...... As iemand jou dwing om sy goed een kilometer ver te dra, dra dit vir hom twee kilometer. (V 41).

Vergelyk ook 1 Pet 2:12 – “Gedra julle altyd goed onder die heidene sodat, al praat hulle kwaad van julle asof julle misdadigers is, hulle julle voorbeeldige lewe kan sien en God kan verheerlik op die dag van afrekening.”


Jesus se derde illustrasie het seker elke luisteraar daar teen die hange van die berg langs die See van Galilea, rooi onder die kraag gehad. Die feit dat hulle steeds onder die Romeinse wet gestaan het en daarvolgens kon ‘n Romeinse soldaat te eniger tyd, soms dreigend met swaard of spies, ‘n Jood beveel om iets te dra (bv. Simon van Sirene wat gekommandeer was om Jesus se kruis te help dra). Nou verwag Jesus dat dit vir die gehate besetter selfs twee kilometer gedra moet word!


Hoe sou ons reaksie gewees het op daardie opdrag? Hewige aktiewe teenstand om die taak te doen, veral as dit van ‘n buffel van ‘n baas af kom; Weier die bevel, draai om en stap vloekend weg; Doen net wat gevra word en nie ‘n duit meer nie; Kla en mompel die hele tyd terwyl die taak gedoen word; Verwens die opdraggewer in ons binneste en verander ons gesindheid teenoor hom.


Vergun my ‘n retoriese vraag: “Ek wonder wat die uitwerking op ‘n Romeinse soldaat was wat die kragtige en onverwagse getuienis van Christen dissipelskap, gade geslaan het?”


Jesus verwag van Sy volgelinge (ons) dat ons nie altyd moet dink aan ons vryheid om te doen wat ons graag wil nie, maar dink aan ons voorreg om uit God se genade ander te dien. Selfs wanneer die taak ondraaglik, haatlik en onredelik is, behoort ons as Sy kinders dit te doen asof ons dit vir God doen, en nie vir iemand wat bo ons aangestel is nie. Dit moet nie net so goed as moontlik gedoen word nie maar beter as wat verwag word! Om Jesus se voorbeeld te volg is nie om te doen wat ons wil en hoe ons wil nie, maar om dit as ‘n voorreg te beskou dat ons tot hulp kan wees. “Amazing!”


Gebed: Here, help ons asseblief om te onthou dat die glorie en genot van hierdie lewe kortstondig is. Help ons daarom om ons beste te lewer in alles wat ons doen, al is dit soms teen ons sin. Vergewe ons die trots in ons harte wat maak dat ons op onsself vertrou en U vergeet. U genade is ons vreugde!

Amen.



Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page