top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


VERGELDING


Matt 5:38-42 – “Julle het gehoor dat daar gesê is: ......... “Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle nie teen ‘n kwaadwillige mens verset nie. As iemand jou op die regterwang slaan, draai ook die ander wang na hom toe.” (Vs 39)

Vergelyk ook Rom 12:19 – “Moenie self wraak neem nie, geliefdes, maar laat dit oor aan die oordeel van God.”


Jesus se uitspraak aan Sy dissipels, is om ons nie teen ‘n kwaadwillige mens te verset nie. Ons eerste reaksie daarop is sonder twyfel dat dit onmoontlik is om toe te pas. Buitendien, as Jesus bedoel het dat alle verset teen kwaadwilliges verkeerd was, hoekom het die dissipels, in Sy teenwoordigheid, twee swaarde saam met hulle gedra? (Luk 22:38).


Jesus was self tydens Sy aardse lewe aggressief in teenstand teenoor die verkeerde. Enkele voorbeelde sluit in: Die geldwisselaars uitgedryf met ‘n selfgemaakte sweep omdat hulle die tempel ontheilig het (Joh 2:13-16); Tydens Sy verhoor het Jesus nie stilgebly en die ander wang gedraai sodat die wag hom weer kon klap nie, Hy het geprotesteer (Joh 18:22-23); Hy was nie teen die doodstraf vir die vrou wat op owerspel betrap is nie, maar teen die onwetlike getuienis daarvan (Joh 8:7); Jesus het selfs geweier om as Regter op te tree (Joh 12:47).


Wat bedoel Jesus met Sy uitspraak? Jesus gebruik vier voorbeelde om te verhoed dat Sy volgelinge hul wêreld aan satan en alle wetverbrekers oorgee! Die eerste voorbeeld van slaan op die “regterwang” is nie ‘n slaan op selfverdediging nie of selfs tydens ‘n geveg nie, maar ‘n klap wat bedoel was om te beledig. Wanneer ‘n regshandige persoon regoor iemand staan en hom klap met die plathand, sal die linkerwang getref word. Om die regterwang te tref moet daar dus met die rugkant van die regterhand geslaan word en dit is destyds as dubbel so ‘n belediging beskou as om met die plathand geklap te word.


Jesus sê geensins dat die beledigende klap aanvaarbaar is nie. Hy verwag van ons dat wanneer iemand ons selfs dubbel beledig, ons nie moet vergeld, weerwraak neem of selfs beledig voel nie. Om die ander wang te draai is ‘n figuurlike uitdrukking en dit is ‘n kragtige tentoonstelling van die “Evangelie van die Liefde.” Om die ander wang te draai is in kontras met wat die kwaadwillige mens verwag in sulke omstandighede. Dit sal hom laat wonder wat aan hierdie persoon is wie hy geklap het. Wat maak hom anders? Dit kan dalk vir hom die eerste stap wees om die Christen se voorbeeld na te volg.


Gebed: Here, help ons om elke keer wanneer ons iemand anders in die gesig kyk, te laat besef dit is ons broer of suster. U is die God van liefde en ons as U kinders behoort elke dag die dag te groet met liefde in die hart en struikelblok-mense verwelkom met daardie liefde, want ons is anders, ons is nuutgemaak. Ons is ewigheidskinders en ewigheidskinders gee vir ander om in liefde.

Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page