top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


EEDSWERING – ‘n CHRISTEN PRAAT DIE WAARHEID


Matt 5:37b – Laat julle ‘ja’ eenvoudig ‘ja’ wees en julle ‘nee’, ‘nee’. Wat meer gesê word as dit, kom van die Bose.”

Vergelyk ook Joh 8:44b – “Hy (satan) was van die begin af ‘n moordenaar. En hy staan nie aan die kant van die waarheid nie, omdat daar geen waarheid in hom is nie. Wanneer hy leuentaal praat, is dit volgens sy aard, want hy is ‘n leuenaar en die vader van die leuen.”


Om ‘n leuen te vertel is om satan na te boots. Die leuen is die fondament van opponering teen God, Christus en die waarheid. Christene glo in die waarheid, leef die waarheid, het die waarheid lief en is toegewy aan die waarheid want dit bevry ons. “(Ons) is gered deurdat die Gees (ons) vir Hom afgesonder het en deurdat (ons) die waarheid glo” (2 Tess 2:13b). “Ons liefde moenie net woorde en lippetaal wees nie, maar moet met die daad bewys word, en dan in opregtheid” (1 Joh 3:18). “Laat (ons) aan U toegewy wees deur die waarheid. U woord is die waarheid” (Joh 17:17) “en (ons) sal die waarheid ken en die waarheid sal (ons) vry maak” (Joh 8:32).


Om te probeer wees en op te tree soos die skrifgeleerdes en Fariseërs wat nie net leuens verdra het nie, maar selfs nuwe gesofistikeerde metodes ontwikkel het om die leuens te verskoon, is om satan, die kunstenaar van leuens, te dien. Diesulkes onderdruk die waarheid deur hul ongeregtigheid (Rom 1:18) en verruil die waarheid van God vir die leuen (Rom 1:25).


Mark Twain het gesê: “As jy die waarheid praat, hoef jy niks te onthou nie.” Mense is geneig om soms te veel te wil sê en gevolglik word die onnodige stertjies bygevoeg. Jesus waarsku ons juis daarteen (Matt 5:37b). “Wie sy mond en sy tong in toom hou, hou hom uit gevaar” (Spr 21:23). Vinnige besluite en vinnig te veel te wil sê, kan ‘n lelike nadraai hê wanneer dit moeilik raak om woord na te kom. Om eerder nee te sê is nie ‘n sonde nie maar dit is wel ‘n sonde om ja te sê en nie jou woord na te kom nie.


Hoe ken mense ons? Is ons woorde betroubaar? Kan ander op ons woorde peil trek? Is ons ‘ja’ eenvoudig ‘ja’ en ons ‘nee’, ‘nee’? Praat en leef ons die waarheid? Beelddraers van God kan positief op al die vrae antwoord. Mense wat nog onder die heerskappy van die sondige natuur leef, praat soos die vader van die leuen – vals en onbetroubaar!


Iemand het eendag gesê: “Die dinge wat in die Bybel staan, is nie waar omdat hulle in die Bybel staan nie. Hulle staan in die Bybel omdat hulle waar is.” “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie” (Joh 14:6). As ons daarop aanspraak maak ons volg die Jesus van Joh 14:6, leef en praat ons die waarheid en is dit nie nodig op ‘n eed te sweer om dit te bekragtig nie.


Gebed: Here, U gebooie gee aan ons die opdrag om altyd die waarheid te praat. Ons word geroep om die waarheid te praat in elke situasie waar ons die verantwoordelikheid het om te kommunikeer want waar die “bron” van die leuen leef, word mense van hul menswaardigheid beroof. Hou ons asseblief op die smal pad van die waarheid want die waarheid hou vir altyd en die leuen net ‘n oomblik (Spr 12:19). Help ons bly wandel in die waarheid van die evangelie want U is die weg vanuit die doodsvallei na die land van seën en geluk.

Amen.



Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page